Monday 11 August 2014

Troos





Die ewige  God is ‘n skuilplek;  sy arms is altyd onder jou.  -  Deut. 33:27


Dankie, dierbare Heer van my hart, vir U oneindige groot liefde wat altyd gereed is om my te beskerm, te vertroos en te lei.

Al gaan ek deur die diepste duisternis, U liefde is my stok en my staf.  Dit breek deur die donkerste wolk, hef my op, lei en rig my totdat ek weer in staat is om die lig te kan sien en kan voortgaan op my lewenspad.

En as ek troosteloos gaan sit langs die pad, té moeg en moedeloos om ‘n enkele tree verder te gee, is dit U wat laag afbuk en my hande teer vat, Heer.  En as ek net nie meer verder kan nie, tel U my op in u kragtige Vaderarms en dra U my, en nie voor ek in U krag, opgehef en vertroos in U liefde, weer in staat is om my voetspore langs dié van U in die sand te laat nie, sal U my neersit nie.

En as my hart in skerwe aan my voete lê, gebroke omdat ek iemand wat vir my baie na aan die hart is, verloor het, dan is dit U wat die stukkies optel en met die salf van U helende liefde die wonde heel en weer rus en vrede en moed bring waar alles so donker was.


Gebed:  Dankie Heer, vir U wonderwerkende liefde ook vir my.


~ Uit Daelikse Woord ~



No comments: