Friday 8 August 2014





MOED


Wees dus sterk en hou goeie moed.  -  Ps. 31:25


Hoe sterk moet ons hart net nie wees nie, veral in hierdie krisistye waardeur die wêreld nou gaan.  Maar met ‘n sterk hart weet ons hoe om vas te staan in die midde van alle ongunstige omstandighede.  Ons weet hoe om onwrikbaar te staan in die krag van Christus wat magtiger as enige van die uitdagings in die wêreld om ons is.  Hy weet, Hy sien, Hy hoor al ons gebede en neem oor.  Hy is trots op ons, en ook dankbaar dat Hy so in en deur ons sy werke kan doen.

En om te dink – niks en niemand kan hierdie Wonder-krag van ons af wegneem nie!  Diep in ons siel is dit deel van ons wese, en hierdie wonder begin al hoe meer deel word van ons daaglikse handel en wandel.  Ons sal lelike dinge hoor en sien, ons sal hoor van invalle en aanvalle, maar dit wat ons hoor sal totaal oorweldig word deur dit wat ons sien en weet.  En wat sien en weet ons?  Ons sien die lig en ons weet God is nog in beheer van sy wêreld.  Veilig en beskut in die sagte gloed van die goue lig vanuit ons diepste wese, gaan ons vol moed voort deur Hom wat ons die krag gee!


Gebed:  Ek is sterk en vol moed!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: