Monday 3 December 2012






VANDAG


Dit is die dag wat die Here gemaak het.  -  Ps. 118:24


VANDAG  gaan ek met vreugde binne, bly-opgewonde oor ál die ervaringe wat daar op my wag.  Dit nooi my om te deel in die lewe, te deel in blydskap, vrede en liefde en ‘n oorvloed van seëninge sonder maat.

KOM BINNE!  sê die dag vir my.  En ek gaan met moed en durf binne, want  ek weet die 24 uur wat hierdie dag my bied, is goue ure, ure wat ek produktief, verstandig en met ‘n lied in my hart moet gebruik.

Hierdie dag is soos ‘n deur wat gemerk is:  GELEENTHEID.  Ek gaan my oë oophou, want ek weet in die loop van hierdie dag is daar baie geleenthede om nog meer te leer en nog verder te groei.  Daar is baie geleenthede om andere te dien en te versorg, om te gee en te ontvang.

Hierdie dag is soos ‘n deur wat gemerk is:  LEWE!  En hoe gaan ek nié vandag lewe tot verheerliking van Koning Jesus nie!  Ek gaan só gelukkig wees, en sing op my weg omdat ek so báie het van die Heer om te gee!


Gebed:  Dankie, Hemelvader, vir hierdie wonder-mooi dag wat U so genadiglik vir ons U mensekinders geskenk het!


~ Uit Daelikse Woord ~







No comments: