Thursday 20 December 2012






BESKERMING


Elke belofte van God is betroubaar;  Hy beskerm die wat by Hom skuil.  -  Spr. 30:5


Elke nuwe dag wat aanbreek, onthou ek om my Heer te dank vir Sy nabyheid – ek sê vir hom dankie dat Hy vandag en elke dag my Metgesel is.  Soos ‘n skaapwagter oor sy kudde waak, so waak my Hemelse Vader oor my en my geliefdes.  Met entoesiasme en vreugde gaan ek hierdie pragtige nuwe dag tegemoet wat Hy my so genadiglik geskenk het.  Ek weet Hy lei my, onderskraag en beskerm my, elke tree van die paadjie wat ek moet stap.

Hoe mooi strek hierdie dag nie voor my uit nie.  As ek oppad is – ry my Heer saam met my.  En wanneer ek by my werk of enige ander plek is of ook selfs met die geríngste sleurwerkie besig is, inspireer Hy my met nuwe idees en vervul hy my hart met liefde en geduld teenoor my medewerkers.  Dit is Hy wat my siel laat sing binne-in my.  ‘n Vrolike lied wat gesien word in die vreugde wat my oë weerspieël en ‘n blye glimlag wat speel om my mondhoeke.

Die vriendelike manier waarop ek met my medemens kommunikeer, maak hulle ook weer vriendelik teenoor my, en ek voel veilig en beskermd dwarsdeur hierdie mooie dag!


Gebed:  Ek skuil by God.


~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: