Monday 31 December 2012





BLYDSKAP

U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap.  -  Ps. 16:11

Heer, ek het altyd gedink ek weet wat dit beteken om opgeruimd en vrolik te wees, tot ek na myself met nuwe oë begin kyk het, en besef het hoe diep en oorvloedig die blydskap is wat daar net by U te vinde is – U Heer, leer my waarlik hoe om te lewe!

Met ‘n lied in my hart gaan ek die oujaar uit en 2013 vreesloos binne op my pad van lig, want ek weet, wat ookal op my wag, U is elke oomblik van elke dag net hier by my.  Hoe groot die seën van U vreugde wat vanuit my diepste wese opborrel en sigbaar word in my lewenslus en gesondheid – in my deernis en respek vir alle lewe.

U blydskap diep in my wese laat my siel sing van vreugde.  Dit kan gesien word in die vonkel in my oë, dit kan gehoor word in die vrolike lag wat vanuit my siel weerklink – ‘n blydskap so aansteeklik dat dit almal om my ophef en seën, en vir hulle ook ‘n nuwe betekenis aan hul lewens gee.  Die verhoudings tussen my en almal om my is mooi Heer, want dis U liefde wat ek uitstraal en wat vir myself soveel vreugde gee.

Gebed:  Baie, baie dankie, dierbare Here, dat U my SO bly maak!

~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: