Friday 21 December 2012





LIEFDE


Julle moet geloof in God hê.  -  Mark. 11.22


Ek glo in God en in Sy liefde in my en vir my, en besluit nou en hier om hierdie liefde waarvan my hart so vol is, ten volle uit te leef.

Hierdie besluit wat ek geneem het, is gegrond op my geloof, want geloof en liefde loop hand-aan-hand.  Hoe negatief en afbrekend die dinge wat met my ookal mag gebeur, die besluit wat ek geneem het om liefdevol te wees, staan vas.

Die bron van liefde, Jesus Christus, woon diep binne-in my hart.  My hart loop oor van liefde, en ek deel dit vryelik met my medemens.  Sou daar verskille kom tussen my en iemand anders – ‘n verskil wat dreig om ons van mekaar te vervreem, benader ek dit met liefde, en die dreigende onheil verdwyn soos mis voor die son.  Geloof en liefde saam is soos ‘n towerstaf wat net die goeie en die mooie in andere na vore laat kom.

My hele lewe kry nuwe betekenis as ek andere met liefde en deernis behandel, en hoe meer liefde ek so uitleef – en hoe meer ek gee, hoe meer ontvang ek, en hoe sterker word my geloof in die krag van Gods liefde en lig in my en om my.


Gebed:  Ek glo in God en in Sy nimmer-eindigende liefde vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~






No comments: