Sunday 16 December 2012





GENADE

Deur die genade van God is ek wat ek is.   Sy genade aan my was nie tevergeefs nie.  -  1 Kor. 15:10

Hoe pragtig is hierdie teks nie vandag nie!   Wat is ek?   Ek is ‘n kind van God, ‘n kind van die lig, vry van enige kommer en sorge, vry van inperkende omstandighede, heerlik, stralend vry om te wees dit wat ek in der waarheid is!

Dan sê die teks nog verder, “Sy genade aan my was nie tevergeefs nie.”  Dit beteken dat ek in Sy genade en liefde ‘n wenner is in die lewe.  Geen struikelblok is te groot vir my om in Sy krag te oorkom nie. geen teleurstelling te groot om te verwerk nie, geen negatiewe gewoonte of band so sterk dat ek dit nie kan breek nie.

Ek is deel van alles wat mooi en goed is in my en om my, en hierdie waarheid leef ek uit in alles wat ek is en wat ek doen.

Die genade, oftewel liefde van God, help my om die verlede agter te laat, en nie eenkeer met verlange of spyt terug te kyk nie.  Elke dag is soos ‘n skoon bladsy waarop ek en my Heer nuwe hoofstukke voeg by die verhaal wat omvou met my as oorwinnaar.

Gebed:  Deur die genade van God is ek wat ek is.

~ Uit Daelikse Woord ~

No comments: