Sunday 16 December 2012





BID VIR ANDER

Die Voorspraak, die Heilige Gees … sal … julle alles  leer.  -  Joh. 14:26

Bekommerd oor ‘n geliefde wat na my mening die pad heeltemal byster geraak het?  Ek onthou – die Voorspraak, die Heilige Gees, sal ons alles leer, en hierdie Gees is in hulle, soos Hy ook in my is.

Daarom bid ek vir hulle, en ek weet, Hy wat vir my rig en lei, sal ook vir hulle rig en lei.  Hy wat my wonde heel wanneer my hart in duisend stukkies lê, sal ook hulle wonde heel.  Hy wat my krag gee wanneer my krag totaal uitgeput is, sal ook vir hulle krag gee.  Hy wat my gesond maak en hou, sal ook vir hulle gesond maak, en op die regte tyd, op die regte manier, sal hulle weer die lig vind, en saam met my stap op Sy helderverligte pad.

Dankie Hemelse Vader, dat U altyd ‘n Voorspraak is vir my en my geliefdes en vir elkeen vir wie ek mag bid.  Vas vertrouend op U lig op hul pad, U liefde wat hulle omvou en U krag wat ook hul krag is, laat ek hulle nou sonder enige sorge veilig in U troue Vaderhande.  Beter as ek, weet U wat vir hulle die heel beste is, en ek sê dankie dierbare Heer!

Gebed:  In U hande, Heer, laat ek elkeen vir wie ek bid.

~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: