Sunday 30 December 2012





‘N OOP HART

Dan sal jy geregtigheid en reg verstaan en regverdigheid  - elke goeie pad.  -  Spr 2:9 OV

Om ‘n oop hart te hê, is om ‘n liefdevolle hart te hê – ‘n hart wat maklik gee.  Is my hart so ‘n oop hart?  Is dit vir my maklik om te gee?  As ek handel vanuit my diepste self, sal ek die minsame, vriendelike mens wees wat ek  in der waarheid is.

Deur my gebede en die toepassing van my geloof, begin ek ‘n liefdevolle oop hart ontwikkel.  As ek egter soms dinge begin bevraagteken en wonder – moet ek of moet ek nie, dan plaas ek myself in die plek van daardie persoon en vra myself af hoe ek graag behandel sou wou word as ek in sy skoene gestaan het.  Wat is hier nodig – wat is waardevol en van toepassing?  Hoe kan ek help?

In die stilte van gebed kom die antwoord.  Ek kan my liefde, my begrip en aanvaarding gee.  Ek hoef nie heen en weer te jaag om van enige diens te wees nie, maar my leefwyse kan die van my buurman raak.  Ek kan my talente, my vaardighede en kennis deel. Waar daar ‘n behoefte is, deel ek my tyd, my energie en enigiets wat ek mag hê wat die leemte kan vul, want God het in my ‘n liefdevolle oop hart geskep.

Gebed:  U het aan my ‘n liefdevolle oop hart gegee. Help my om dit te gebruik tot verheerliking van U kosbare naam en ten gunste van my naaste.

~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: