Monday 10 December 2012





INNERLIKE VREDE

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Matt.  11:28

Kom na My toe, My geliefde kind, en hier, diep in Gods koninkryk binne-in jou waar Ek my intrek geneem het, sal Ek jou die rus en vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.

Die rus wat Ek jou gee kan die aarde jou nie gee nie – veral nie in hierdie tyd so uiters wisselvallig en gevaarlik nie.  Nee, die rus wat Ek jou gee is die rus van ‘n siel wat My gevind het, en dit is jy.  ‘n Siel wat gló in My, en dit is jy!

Neem net My hand, en Ek sal My lig helder laat skyn op jou pad.  Nie net dít nie – Ek sal elke tree saam met jou stap – Ek sal jou lei en rig en beskerm elke tree van die weg wat jy moet gaan.

Na waters waar rus is sal ek jou heen lei, en by hierdie waters sal Ek jou siel verkwik in My liefde so oneindig groot vir jou.  Rus en vrede sal jou gemoed binnevloei en géén angs en spanning sal staande bly in My lig en liefde nie.

Gaan nou in vrede en hou goei moed, want Ek het die wêreld klaar oorwin.  Kom, neem nou My hand – Ek wag.

Gebed:  Ek neem U hand, dankie, dankie dierbare Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: