Saturday 5 May 2018

"EK KAN NIE BID NIE!"

"EK  KAN  NIE  BID  NIE!"
deur Milanie Vosloo
.
Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid.  Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie.  Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie.  -  Romeine 8:26
.
Daar's tye in ons lewe wat ons eenvoudig net nie kan bid nie. Dis asof daar 'n groot muur tussen ons en God is en ons wil uitroep: "Here, ek kan nie met U praat nie!  Woorde wil nie vorm uit my seer nie.  My gedagtes spring soos popcorn in 'n mikro rond. Miskien ... wíl ek nie bid nie? ... O Gees, bid asseblief vir my ..."
Die oomblik wanneer jy so jou afhanklikheid verklaar, kan jy weet: "Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het - dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowige intree" (Rom 8:27).  Hoor jy dit?  En besef jy dat die liefdevolle Gees van God jou hart volkome verstaan en dat Hy in súlke tye vir jou bid?  Jy hoef dus nóóít te wanhoop wanneer jy nie kan bid nie.  Jy kan in sulke tye maar net stil word in die teenwoordigheid van God, jou gedagtes vrylik laat vloei en toelaat dat die Gees jou gedagtes vir jou vorm.
.
Heilige Gees, ek kan nie bid nie.  Sal U dit asseblief vandag vir my doen?
.
God vereis nie die regte woorde, perfekte gebede en immer-gehoorsaamheid voordat Hy ons met sy teenwoordigheid bederf nie.  Hy vra net 'n nederige en opregte hart.
.
~ Uit Laat Sy Liefde Jou Lei : Cum Uitgewers ~
.
Geplaas deur:  Koningsdogters- en Seuns vir JESUS / Facebook
.

No comments: