Saturday, 14 September 2013

SIEN DIE CHRISTUS





Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.  -  Kol. 1:27

Christus is ín ons.  Binne-in ons diepste heiligdom sal ons Hom vind as ons stil word in gebed.  Hoe wonderlik as ons dit kon sien met ons menslike oë.

Daar is egter niks wat keer dat ons na andere om ons kyk met die oë van Christus nie.  Daar is niks mee verkeerd om diep in ons hart te sê: “Die Christus in my sien die Christus in jou” as ons graag iemand anders wil help of wil vergewe nie.

Ons kyk by die menslike verby en soek die Christus in die persoon met wie ons te doen het, en as Hy nog nie in hul harte ontwaak het nie, is hierdie benadering van ons soos olie wat drup op die skynbaar verroeste skarniere van die *deur* na húl diepste heiligdom.

“Ek sien die Christus in jou.”  Sy lig skyn helder voor jou uit om jou te lei en te rig op die pad wat lei tot jou héél hoogste heil.

As ek die Christus in andere sien, besef ek hoe waardevol hulle is, en dit is dan vir my só baie maklik om hulle met liefde en deernis te benader.

Gebed:  Ek sien die Christus in jou.

~ Uit Daelikse Woord ~

EK IS TOT ALLES IN STAAT




EK IS TOT ALLES IN STAAT

In die Here is julle lig.   Leef dan as mense van die lig.  -  Ef. 5:8

Miskien voel ek dat ek daartoe in staat is om meer te gee, meer te doen, in een of ander saak of situasie of werk waarin ek myself mag bevind.

Ek aanvaar hierdie gevoel as iets positiefs – ‘n innerlike drang om my volle potensiaal uit te leef.  Ek kan meer doen – meer wees.  Ek hoef my nie te skik na iets minder as ek weet dat ek tot meer in staat is nie.

Ek is ‘n kind van die lig op ‘n pad van lig, en elke dag bied my die geleentheid om ‘n beter lewe te voer as waartoe ek al ooit in die verlede in staat was.  Oomblik na oomblik, dag na dag, jaar na jaar, is ek besig om geestelik te groei, hoe oud of hoe jonk ek ookal mag wees.  Dis ‘n proses wat nooit ophou nie, en hoe verder ek vorder op my pad van lig, hoe groter word die moontlikhede wat ek kan bereik en hoe sterker staan ek in Sy krag, liefde en lig.

As kind van God is ek geskape, en die moontlikhede en potensiaal wat binne-in my vasgelê is, ken geen perke nie.

Gebed:  Ek is tot alles in staat.


~ Uit Daelikse Woord ~



Sê Dankie







Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.  -  2 Kor. 9:15

In die Onse Vader, en in Sy ander leerstellinge, het Jesus deurgaans verwys na God as Vader.  En deur Sy woorde en Sy dade, het Hy beklemtoon dat daar ook ‘n baie spesiale verwantskap tussen ons en God, ons hemelse Vader, is.

Soos ‘n liefdevolle ouer sien Hy na ons om, en dit wat Hy weet tot ons heil sal wees, bied Hy ons in oorvloed aan.  As ons net vir ‘n oomblik stilstaan en ons seëninge begin tel, sal ons verbaas wees oor wat God ons bied, en begin wonder hoe ons Hom ooit genoeg kan loof en eer.

Vir die kos wat ons eet, ons gesondheid en die dak oor ons kop, sê ons dankie.  Vir al die wonderlike vriende met  wie ons ons dae kan deel – vir familie, vriende en medewerkers – hoe kan ons óóit genoeg dankie sê?

En bowe-al alles, ons diepste dank en lof aan ons hemelse Vader vir die voorreg om Sy kinders genoem te word, en vir Sy Seun wat elke dag saam met ons al ons lief en ons leed deel – baie, baie dankie, Vader!

Gebed:  Dankie Vader, dat ook ek U kind genoem kan word.

~ Uit Daelikse Woord ~

Sê Dankie


Friday, 6 September 2013

REGVERDIGHEID





Maar laat die reg en geregtigheid te voorskyn kom.  -  Amos 5:24

Glo ek dat dit nie reg is dat een of ander iets wat ek begeer, van my weerhou word nie?  Glo ek dat iets of iemand in my pad staan en alles vertraag?

Vandag herinner ek my daaraan dat niks enige seën wat my toekom, van my kan weerhou nie.  Op ‘n natuurlike manier sal dit op die regte tyd na my toe kom.  Ek glo in die reg en geregtigheid van God en koester geen gedagtes wat betrekking het op onregverdigheid nie.

Ek glo dat God dít wat tot my hoogste heil is, my lewe inbring.  En elke ervaring wat ek mag deurgaan skuil ‘n bedekte seën, en alles dra by tot my geestelike groei.

Ontslae van enige gedagte aan onregverdigheid, vind ek rus vir my siel.  Ek seën alles en almal in my lewe, en blymoedig gaan ek voort op my pad van lig saam met my Ligvriende, want ek weet dit wat tot my hoogste heil strek, sal op die regte tyd, op die regte manier, my lewe binnekom.

Gebed: Die regverdigheid van God heers in my lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~

Wednesday, 4 September 2013

LAAT LOS LAAT GOD





Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.
Spr. 16:3

Miskien is die laaste ding wat ons wil doen om tou op te gooi teenoor enigiets of mens waarby ons betrokke is.  Maar ons ywer om iets te laat slaag, of om ‘n persoon te help, kan ons geestelik, emosioneel of fisies totaal uitput.  Ons kan so vasberade wees om nie tou op te gooi nie, dat ons later skoon by die rede van ons oorspronklike betrokkenheid verbykyk ....

As ons egter nou erken dat ons slegs teenoor God rekenskap moet gee, sal ons besef dat dit nie ‘n teken van swakheid is om iets te los nie.  Dit is slegs ‘n manier waarop ons ontslae raak van ons eie idee van hoe iets gedoen of nie gedoen moet word nie, en alles in Gods hande laat.  Ons glo dat Hy sal toesien dat net die beste sal gebeur, vir ons en vir almal by die saak betrokke.

*Laat los laat God*  beteken om ons gedagtes, ons dade en planne in Gods hande te plaas, en met Hom saam te werk.   *Laat los laat God*  beteken om ons lewens volgens Sy volmaakte plan vir ons te laat omvou en ons eie plan te laat vaar.

Gebed:    Ek  *Laat los laat God*  oorneem.

~ Uit Daelikse Woord ~