Saturday 14 September 2013

SIEN DIE CHRISTUS





Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.  -  Kol. 1:27

Christus is ín ons.  Binne-in ons diepste heiligdom sal ons Hom vind as ons stil word in gebed.  Hoe wonderlik as ons dit kon sien met ons menslike oë.

Daar is egter niks wat keer dat ons na andere om ons kyk met die oë van Christus nie.  Daar is niks mee verkeerd om diep in ons hart te sê: “Die Christus in my sien die Christus in jou” as ons graag iemand anders wil help of wil vergewe nie.

Ons kyk by die menslike verby en soek die Christus in die persoon met wie ons te doen het, en as Hy nog nie in hul harte ontwaak het nie, is hierdie benadering van ons soos olie wat drup op die skynbaar verroeste skarniere van die *deur* na húl diepste heiligdom.

“Ek sien die Christus in jou.”  Sy lig skyn helder voor jou uit om jou te lei en te rig op die pad wat lei tot jou héél hoogste heil.

As ek die Christus in andere sien, besef ek hoe waardevol hulle is, en dit is dan vir my só baie maklik om hulle met liefde en deernis te benader.

Gebed:  Ek sien die Christus in jou.

~ Uit Daelikse Woord ~

No comments: