Thursday 19 September 2013

Die Goeie Herder is Christus wat in jou woon.




Die Goeie Herder is Christus wat in jou woon .........................

Aanvaar Sy krag en liefde en gebruik dit in jou lewe.  Die Herder is áltyd in jou aan die werk, en Sy belofte aan jou is nou die volgende:  “Ek gee hulle (ons) die ewige lewe, en hulle (ons) sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle (ons) uit My hand ruk nie.  My Vader wat hulle (ons) aan My gegee het, is groter as almal;  en niemand kan hulle (ons) uit die hand van my Vader ruk nie.  Ek en die Vader is een”  (Joh. 10:28-30)

Ja, liewe vriend of vriendin, jy is nooit alleen nie!  Die Goeie Herder is nie net altyd bý jou, besig om jou stap vir stap te lei nie.  Hy leef ook ín jou as die teenwoordigheid, die lig, die liefde en die krag van God.  Die Heer van jou hart is ‘n inwonende, rigtinggewende Self.  Niks sal jou ooit onbreek nie – gló dit, áánvaar dit, en wéét Hy sorg vir jou, vandag, more en tot in ewigheid.  By Hom is jy veilig!

Deur hierdie Heilige Gees wat in jou woon, het jy die krag om te aanvaar, te ontvang, te lewe, asem te haal, te werk en álles te wees wat jy graag wil wees.  Dit is ‘n opdrag wat jy van jou Vader ontvang het deur die lewe, die werk en lesse van Jesus Christus, Sy seun!  Gaan uit in lof en danksegging, want jy is een met die Goeie Herder!

Die Herder lei jou na groen weivelde en na waters waar rus en vredevolle stilte is.  Die Herder heel jou en lei jou op Sy spore van geregtigheid.  Hy verkwik jou siel met liefde, en is jou stok en jou staf deur die moeilikste omstandighede.

Ja, liewe vriend, bevestig:  “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie”, en wéét,  “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;   en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae”         (Ps. 23:6).



~ Mary Kupferle ~
Uit Daelikse Woord

No comments: