Thursday, 19 September 2013

PSALM 23 (OV)




Psalm  23







1'n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.

2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

4Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.



Die Goeie Herder is Christus wat in jou woon.




Die Goeie Herder is Christus wat in jou woon .........................

Aanvaar Sy krag en liefde en gebruik dit in jou lewe.  Die Herder is áltyd in jou aan die werk, en Sy belofte aan jou is nou die volgende:  “Ek gee hulle (ons) die ewige lewe, en hulle (ons) sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle (ons) uit My hand ruk nie.  My Vader wat hulle (ons) aan My gegee het, is groter as almal;  en niemand kan hulle (ons) uit die hand van my Vader ruk nie.  Ek en die Vader is een”  (Joh. 10:28-30)

Ja, liewe vriend of vriendin, jy is nooit alleen nie!  Die Goeie Herder is nie net altyd bý jou, besig om jou stap vir stap te lei nie.  Hy leef ook ín jou as die teenwoordigheid, die lig, die liefde en die krag van God.  Die Heer van jou hart is ‘n inwonende, rigtinggewende Self.  Niks sal jou ooit onbreek nie – gló dit, áánvaar dit, en wéét Hy sorg vir jou, vandag, more en tot in ewigheid.  By Hom is jy veilig!

Deur hierdie Heilige Gees wat in jou woon, het jy die krag om te aanvaar, te ontvang, te lewe, asem te haal, te werk en álles te wees wat jy graag wil wees.  Dit is ‘n opdrag wat jy van jou Vader ontvang het deur die lewe, die werk en lesse van Jesus Christus, Sy seun!  Gaan uit in lof en danksegging, want jy is een met die Goeie Herder!

Die Herder lei jou na groen weivelde en na waters waar rus en vredevolle stilte is.  Die Herder heel jou en lei jou op Sy spore van geregtigheid.  Hy verkwik jou siel met liefde, en is jou stok en jou staf deur die moeilikste omstandighede.

Ja, liewe vriend, bevestig:  “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie”, en wéét,  “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;   en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae”         (Ps. 23:6).



~ Mary Kupferle ~
Uit Daelikse Woord

Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie.





Begin deur saggies jouself te sê: "Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie" (Ps 23:1). Laat dit soos 'n sagte briesie wees wat jou vul met nuwe vrede, rus en vertroue."


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Laat hierdie woorde vir jou ‘n stille herinnering wees dat Christus binne-in u woon en nou besig is met Sy helende werk in jou.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Voel hoe hierdie woorde elke sel, senu, spier en orgaan van jou liggaam binnedring met ‘n boodskap van rus en verlossing.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Onthou dit, en jy sal geen gebrek hê aan die nodige lig en krag om die mikpunte wat jy vir jouself gestel het, te bereik nie.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Wees verseker dat jy geen gebek sal hê aan die nodige wysheid en insig om jou lewe gelukkig en suksesvol te maak nie.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Glo dit, en jy sal geen gebrek hê aan geloof en krag nie, of aan die nodige ondersteuning en bemoediging in jou huis, besigheid, of met familie en vriende nie.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie."  Vertrou hierdie woorde en jy sal nooit enige gebrek hê  aan die mooi dinge in die lewe nie, want met jou geestelike visie sal alles vir jou mooi wees, en die regte vriende sal op die regte tye in jou lewe kom en dit verryk.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Jy kan gerus wees daarin dat jy geen gebrek sal hê aan die bevryding van ou gewoontes wat vrees en twyfel omtrent jou eie vermoëns in jou laat ontstaan het nie.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Voel gerus met die wete dat jy géén gebrek sal hê aan vryheid om jou lewe mooi en ordelik te laat verloop nie.  Jy sal ook geen gebrek hê aan enigiets goed en mooi nie. Elke oomblik sal die Herder se beloftes na jou toe kom, “Ek is die goeie herder” (Joh. 10:11).  “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê”  (Joh. 10:10 OV)


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Hierdie  bevestiging maak jou hart en siel oop.  Christus word jou onfeilbare metgesel op jou pad van lig.  “Hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit”  (Joh. 10:3).  “Hy (loop) voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken”  (Joh. 10:4), is ook woorde van gerusstelling vir jou.  Jy sal al hoe meer bewus word van Sy helende krag (liggaamlik of geestelik) in jou lewe – jy sal wéét dat Hy in élke uitdaging aan jou sy is!

“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Laat hierdie woorde ‘n vastrapplek kry in jou gedagtes en jou hele gedagtepatroon oorheers.  Laat die inherente krag opgesluit in hierdie woorde so posvat in jou gedagtewêreld, dat hulle ‘n spontane reaksie by jou uitlok op alles wat jy gedurende die loop van elke dag mag ervaar.  Dit is woorde hierdie wat jou al hoe meer sal laat besef dat jy wáárlik ‘n kind van God is.


~ Mary Kupferle ~
Uit Daelikse Woord

Wednesday, 18 September 2013

BLYDSKAP






Met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word.  -  Jes. 55:12

‘n Klein kindjie kyk met vreugde en blydskap na alles om hom, want hy sien in alles uitdagende avonture.  Elke ding is nuut en die moeite werd om te ondersoek.  Niks is te klein en onbelangrik om oorgesien te word nie.

Só kan ons óók na die wêreld om ons kyk – met oë vol verwagting.  Selfs in die nietigste takie kan ons vreugde vind as ons dit sien as deel van die ervaring van die lewe.

Blydskap is nie net ‘n gemoedstoestand nie.  Dit is ‘n manier van lewe.  As ons bewus word van die blydskap diep in ons hart – ‘n blydskap wat ons siel laat sing, borrel dit oor soos ‘n fontein en vul ons hele wese.  Hierdie innerlike vreugde is onaantasbaar want dit is gegrondves op God en Sy nimmereindigende liefde vir ons.

Ons is Sy kinders – dit weet ons, en ons leef in ‘n wonderlike mooi wêreld deur Hom geskep – is dit nie genoeg om ons stralend bly en vrolik te maak nie?

Gebed:  Ek is ‘n vrolike kind van God.

~ Uit Daelikse Woord ~

Tuesday, 17 September 2013

INNERLIKE VREDE





Gaan gerus!   Die Here is by julle op julle reis.  – Rigt. 18:6

Luister ................. kan jy die lied van die lewe hoor? 
Kyk ...................... sien jy Gods lig in jou en om jou?
Voel .................... jy Sy vrede en rus diep in jou wese?
Gaan in vrede, want waar jy ookal is, daar is God!

Sy stem word gedra deur die fluistering van die wind deur die bome, deur die strelende stem van ‘n geliefde, deur die rus en vrede wat jy ondervind in jou stil tye van gebed, diep in jou diepste heiligdom.  As jy ‘n behoefte het aan vrede en rus kan jy dit vind, want God is orals teenwoordig.   Ook daar waar jy is, is Hy gereed om jou in Sy liefde te omvou en met Sy vrede te vul.

God is orals teenwoordig.  Sy lewenskrag pols in jou en deur jou – in en deur alles wat bestaan – ‘n Krag baie groter en sterker as wat die mens al ooit kon skep.  ‘n Hemelse krag wat elke planeet en ster in ‘n ordelike patroon laat beweeg, en selfs die kleinste plantjie laat groei.

Ook vir jóú is Hy áltyd daar – Sy Gees is ín jou, en jy hoef nóóit alleen of eensaam te voel nie.  Strek jou hand uit, Hy sál dit styf vashou!

Gebed:  Vat my hand, Heer, bly by my!

~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 15 September 2013

U EN EK




Ek is by julle al die dae. – Matt. 28:20

Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld, het Jesus gesê toe Hy opgevaar het na die hemel.  Ál die dae!  Dus, Hy is vandag nog stééds so met ons soos 2000 jaar gelede met die mense in Palestina.  Hóé heerlik die wete!

Nóóit is ek alleen nie – U is met my, elke oomblik van élke van elke dag! 

U stap saam met my, U lag saam met my, U sing saam met my, en my lof en dank vir hierdie grootse wonder ken geen perke nie.

Hoe groot die gevaar wat ons nou mag bedreig ookal is, ek is nóóit alleen nie – U beskerm en behoed my en niks en niemand kan my te na kom nie.  U is in my, en ek is in U.  U is krag, dus is ek krag.  U is liefde, dus is ek liefde.  Dit wat ek is in U kan níks en niémand ooit skade aandoen nie.  Saam, is ons ‘n span wat onwrikbaar staan wat ookal op ons pad mag kom.

Gebed:  U is met my – in my – elke dag!

~ Uit Daelikse Woord ~

Saturday, 14 September 2013

DIE KRUIS TEEN DIE MUUR




Die swem instrukteur van n Amerikaanse universiteit kon een nag nie slaap nie. Hy besluit hy gaan swem. Om nie aandag te trek nie, skakel hy nie die ligte aan nie. Hy het die omgewing van die swembad soos sy palm van sy hand geken.Hy klim op die duikplank, strek sy arms na weerskante uit en maak gereed om te duik. Op daardie oomblik kom die maan agter n wolk uit en gooi sy liggaam se skaduwee teen die oorkanste muur. Die skaduwee lyk soos n kruis. Diep getref bly hy net so staan. Hy was nie n belydende Christen nie, maar daar op die duiktoring in die maanlig, in die stilte van die nag, dink hy aan Christus se kruis. Woorde van n lied wat hy in die Sondagskool geleer het, kom in sy gedagte op: "Hy het gesterf, dat ek kon leef ..." Vreemd aangedaan, prewel hy die woorde. Hy besluit om af te klim en langs die swembad te gaan sit en die nuwe gedagtes wat so vreemd, skielik by hom opkom te gaan oordink. Hy swaai sy bene oor die kant van die swembad om sy voete in die koel water te laat hang.Sy voete raak nie water nie. Dit is te donker om in die swembad te sien en hy klim stadig met die trappies af, een na die ander, tot op die bodem van die swembad. Hy het nie geweet die swembad opsigter het die water uitgepomp om die volgende dag skoon water te laat inloop nie.Wat as hy geduik het? Watter onuitspreeklike ingryping van genade wat hom weerhou het om te duik!Diep aangedaan, kniel hy op die koue vloer van die swembad en dank God vir se groot en onverdiende ontferming. In sy hart wel n verlange op om nader aan hierdie God te kom. Sy geloof neem n verdere stap. Die skaduwee van die kruis het hom van n gewisse dood gered, so red Christus se kruisdood hom van die ewige dood. Alleen, knielende in die donker op die swembad se vloer, maak hy sy hart oop en neem Christus Jesus aan as sy Saligmaker!