Friday, 30 December 2011





GROEI


Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.  – 1 Kor. 3:7


God het aan my die vermoë gegee om helder en skeppend te dink, en die vryheid om die stuurman van my eie lewe te wees.  Dus kan ek my gedagtes en gewoontes so verander dat slegs die beste in my na vore kom.

Ek is vry om ontslae te raak van alle gewoontes wat nie meer lonend is nie.  Ek kan my denke skoon maak van alle gedagtes van twyfel, vrees of skuldgevoelens, en hulle vervang deur die seker wete dat ek tot iets beter in staat is.  Ek loof God vir die geleentheid wat Hy my bied om altyd geestelik te kan groei en ontvou deur die ervarings wat die leerskool wat ons die lewe noem, my bied.

Ek is alles behalwe volmaak, maar ek kan elke dag so ‘n bietjie verbeter op die voorafgaande dag.  Solank ek aanhou om my bes te probeer, misluk ek nie, en elke keer wanneer ek slaag, groei my selfbeeld en vertroue in my eie vermoëns, en ek sien kans om selfs nuwe dinge aan te pak.


Gebed:  Ek word geestelik al hoe sterker.


~ Uit Daelikse Woord ~






VERHOUDINGS


Ek bid vir hulle.  -  Joh.  17:9


Die grootste geskenk wat ek ooit vir andere kan gee, is die van my gebede vir hulle:  “Liefling, ek sê dankie vir jou en vir die feit dat jy my lewe met my deel.  Met liefde en vrede seën ek jou, en ek sien jou gelukkig en suksesvol in alles wat jy aanpak.

“Ek het jou lief en aanvaar jou soos jy nou is – nie soos jy in die verlede was of soos ek jou graag in die toekoms wil hê nie.

“Ek laat jou vry om jou eie weg te vind volgens die leiding wat jy kry, en om jou eie lewe te lei – ‘n lewe wat vir jou geluk en vervulling bring.  Ek kan nie jou lewe vir jou leef nie of weet wat jou beïnvloed om die besluite te neem wat jy wel neem nie, daarom oordeel of veroordeel ek jou nie.

“Ek glo en vertrou dat jy ook vir my met die bedagsaamheid en respek sal behandel waarmee ek jou behandel.  Ek waardeer jou eerlikheid en openhartigheid, en is dankbaar oor die geleentheid wat God my bied om jou te ken – ‘n geliefde vry kind van die lig, met spesiale seëninge wat net jy vir die mensdom kan bied.”


Gebed: Liefling, ek seën jou in my gebede!


~ Uit Daelikse Woord ~


Thursday, 29 December 2011





HELING


Die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.  -  2 Kor. 13:13


Die helende liefde van God raak elke liggaamsel van ons aan.  Niks wat nie in harmonie met hierdie liefde kan saamwerk nie, kan staande bly in hierdie magtige stroom van liefde nie.

As ons sukkel om ons gedagtes op God en Sy werke gerig te hou, word ons stil.  Ons gaan ons binnekamer  binne en vra die Heer van ons hart vir Sy hulp.  Hy seën ons gedagtes, maak ons rustig en kalm en bring genesing vir ons na siel en liggaam.

Hierdie helende liefde werk nie net in ons nie, maar ook om ons.  Dit bring orde in ons sake en belange en maak ons voorspoedig.

Verlang ons na beter menseverhoudings tussen ons en ons vriende, familie en medewerkers?  Dan maak ons ‘n beroep op Sy liefde om enige disharmonie wat tussen ons en hulle mag bestaan, uit die weg te ruim.  Hy reageer op elke versoek, en Sy liefde bring vergifnis en liefde teenoor almal ons harte binne.


Gebed:  Die liefde van God vloei nou in my en om my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 28 December 2011





GLIMLAG!


Blydskap laat ‘n mens se gesig straal … die blymoedige mens se hele lewe is ‘n fees.  - Spr. 15:13, 15


‘n Glimlag weerspieël die gedagtes wat ek dink.  Dit is ook baie maklik om te glimlag.  Hulle wat weet, sê ‘n mens gebruik baie minder spiere om te glimlag as om te frons!

Dit maak nie saak wat die dag vir my bring nie, ‘n glimlag kan dit beter maak.  En om alles te kroon – ‘n glimlag is aansteeklik!  As ek glimlag, glimlag andere ook vir my.

Al lyk die dag vir my na een groot deurmekaarspul, dit is nie nodig om dit sommer net so te aanvaar nie.  Ek kan alles verander met ‘n glimlag.  Die glimlag self sal nie die omstandighede enigsins verander nie, maar dit sê vir almal wat ek teëkom dat God nog in beheer van Sy wêreld is, en dat Hy ook hier besig is om te sorg dat alles ordelik en reg verloop.

‘n Opregte glimlag, wat ook in my oë sigbaar is, is die maklikste manier om my liefde en vriendelikheid aan andere en aan ons wêreld oor te dra.


Gebed:  My glimlag weerspieël die liefde in my hart.


~ Uit Daelikse Woord ~







GOD SEËN U!


Ons seën julle in die naam van die HERE.  – Ps. 129:8  OV


God seën u!  Wanneer ons hierdie woorde hardop of sag uitspreek, en dit bedoel, dra hulle ‘n seën oor.  Vandag straal ek my liefde en seën op alles mense uit.  Ek prewel die gebed:  “God seën jou, kind van die lig, waar jy ook al mag wees.”

God seën jou met harmonie en begrip in al jou verhoudinge met ander.

God seën jou met vreesloosheid en met geloof wanneer jy voor uitdagings te staan kom.

God seën jou met vrede en orde wanneer daar skynbaar ongeregtigheid en verwarring is.

God seën jou met liefde en verdraagsaamheid wat kritiek en foutvindery verjaag.

God seën jou met geloof in Sy genesende krag, die geloof om te weet dat by Hom alle kwale genees kan word.

God seën jou met die rykdom van Sy liefde en maak jou lewe voorspoedig.


Gebed:  God seën jou!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 22 December 2011





ONS TUISTE


As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle:  “Wees saam met my bly”. – Luk. 15:6


Terwyl ons so besig is met die voorbereidings vir ons vakansie en feesgety, kom die gedagte spontaan by ons op – wat beteken ons huis vir ons?  Ons huis is ‘n baie spesiale plek vir ons – dis ‘n toevlug wat ons rus en vrede gee ‘n plek waar ons kan ontspan en hernu kan word.

Of ons huis nou groot of klein is, in die middel van ‘n besige stad of êrens op die platteland of op ‘n plaas, dit is en bly vir ons ‘n plek waarin ons onself kan onttrek van al die eise wat die lewe aan ons stel.

Ons huis is ook ‘n plek van aangename samesyn met andere – ‘n aangename, gelukkige plek wat ‘n warm welkom bied aan geliefdes, en aan vriende wat na die skeiding van ‘n dag, ‘n jaar of selfs langer, weer bymekaar uitkom.

Met ‘n diepe besef van wat ons huis vir ons beteken, seën ons dit en ons bied dit aan as ‘n plek waar mense van Christus tot Christus met mekaar kan kommunikeer.


Gebed:  Seën ons huis, Heer, met U liefde en vrede.


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday, 21 December 2011





OUERS


Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.  – Joh. 3:35


LIEFDE word op so baie maniere oorgedra.  Daar is egter geen liefde so mooi en onvoorwaardelik soos die van ‘n ouer vir sy kind nie.  En so het ons hemelse Vader ons ook lief – onvoorwaardelik, te alle tye en onder alle omstandighede.

Hy staan ons by, inspireer ons, voorsien ons van die nodige insig en kennis en help ons om vanuit Sy liefde, lig en krag binne-in ons ‘n sukses van ons lewens te maak.

Kom ons lê ons dan nou daarop toe om vandag, en sommer elke dag van nou af aan, aan andere die soort liefde te gee wat God ons gee.  As nuwe ouers, of as ouers vir wie die tyd aangebreek het om hul kinders op hul eie voete te laat staan, kan ons ‘n atmosfeer van liefde en inspirasie skep wat hul aanmoedig om te groei en verder te ontvou.

Kinders herinner ons aan die dinge wat mooi en goed is.  Laat ons dan hierdie inherente skoonheid van kinders aanwakker en laat uitblom, want hulle is die grootmense van die toekoms.

En wanneer ouers uitgesluit word uit hul kinders se lewens en verworpe voel, kan hulle nog altyd aan hul liefde betoon deur vir hulle te bid en op te dra aan God.  Al versmaai hulle vandag u ouerliefde, sal hulle eendag wel verlang daarna en dit soek – daarvoor sorg ons eie Hemelvader – al is dit ook eers eendag wanneer hulle in presies dieselfde bootjie is as wat u nou is. As God klein alledaagse gebede wat u bid verhoor, hoeveel te meer sal Hy u vurige en aanhoudende gebede as Ouers verhoor!


Gebed:  God is liefde en Hy het my lief.


~ Uit Daelikse Woord ~