Thursday, 1 March 2012





LEIDING


Hier is die pad, loop hierlangs.  –  Jes. 30:21


Enigiemand wat al iets nuuts probeer het, weet hoe belangrik goeie raad kan wees.

Dieselfde beginsel geld ook vir ons wat Gods leiding elke dag probeer volg. Deur Christus wat in ons woon, en altyd gereed is om ons by te staan, is al die leiding wat ons ooit mag benodig tot ons beskikking.

Toe Jesus Sy dissipels geroep het, het Hy net gesê: “Volg My.” Die leiding wat Hy hulle aangebied het, was nie net om hulle die dinge te leer wat vir hulle nodig was om te leer nie, Hy sou hulle ook vooruitgaan om hulle pad vir hulle makliker te maak. Deur voorbeelde het Hy andere geleer. Aan Sy dissipels het Hy die weg getoon wat hulle moes volg.

Die wonder van alles is dat ons ook ‘n Leidsman het op wie ons kan vertrou. En hierdie Leidsman is so na aan ons – Hy woon sommer binne-in ons, in ons harte. Een minuut van stilte is genoeg om Hom te bereik, een minuut van stilte is vir Hom genoeg om ons te lei op Sy pad van lig.


Gebed:  Dankie Heer, dat U net een minuut ver is.


~ Uit Daelikse Woord ~





VERTROUE

Ek is die Here jou God … moenie bang wees nie, Ek is by jou. – Jes. 43:3,5

Dit is Gods Heilige Gees wat in my woon, wat my altyd daarvan verseker dat alles wel is. Met my gedagtes toegespits op hierdie waarheid, voel ek veilig en tevrede net hier waar ek my nou bevind.

As ek bewus word van die geringste gevoel van onveiligheid, ontspan ek met die woorde: Gods Heilige Gees woon in my, en ek lewe, beweeg en bestaan in hom. Of ek nou met ‘n nuwe werk begin of nuwe verantwoordelikhede op my neem in die werk waarmee ek besig is of tuis, of ek nou op reis saam met ander gaan of meer tyd alleen tuis deurbring, ek weet my Heer is altyd by my em met my, en in Sy liefde en sorg verloop alles ordelik en reg.

Waar ek ookal mag wees. Daar is God. Wat ek ookal poog om te oorkom, God is by my. Hy help my en in Sy krag sal en kan ek oorwin.

Ongeag omstandighede, ongeag die plek waar ek my mag bevind, in Sy liefde sal Hy my versorg en vertroos op ‘n manier wat vir my die heel beste sal wees.

Gebed: Ek is rustig en tevrede want my Heer sien na my om.

~ Daelikse Woord ~


Tuesday, 28 February 2012





STIL-TEVREDE


Die Here jou God is by jou … Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou – Sef. 3:17


Hoe heerlik om te weet – die Here is by ons. Elke oomblik van elke dag is Hy net hier aan ons sy – Hy deel in ons vreugdes, Hy troos ons in ons smart, Hy wandel saam met ons en handel saam met ons, en omdat ons Hom ken op al ons weë, is Hy stil-tevrede in Sy liefde vir ons.

En as Hy sien ons is gewillig om voortdurend lief te hê en te bid vir  wie ookal dit nodig het, jubel en juig Hy oor ons , want dan weet Hy, Sy koms na hierdie aarde was nie verniet nie.

Heer van my hart, vir geen oomblik gaan ek vandag vergeet dat U net hier by my is nie, en ek gaan saam met al my Ligvriende hierdie maand spesiaal wy aan gebed. En Heer, lê U die woorde in my mond, lig-bring woorde wat insig bring en gebroke harte saggies aanraak, en laat U krag die krag bring aan elke werker in die Lig, oor heel die wêreld heen. Mag ek U altyd stil-tevrede maak in U liefde, Heer, tot hierdie stil-tevrede ook in my hart ‘n weerklank vind.


Gebed:  Die Here my God is by my!


~ Uit Daelikse Woord ~








WENNER


God was met hom, en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk.  – Hand. 7:9-10  (OV)


Voordat ek nie baie goed verstaan wat dit beteken om ‘n wenner in die lewe te wees nie, mag ek nooit voel dat ek ‘n wenner is nie.

Ek is altyd ‘n wenner as ek die krag van Christus in my gebruik om te seëvier oor alle negatiewe gedagtes, gewoontes en handelinge.  ‘n Ware wenner is nie iemand wat daaraan dink om met ander mense te kompeteer nie, dus gaan ek my ook nie daarop toelê om beter as andere te wees nie.

Ek mag nie die top-presteerder in ‘n toets wees nie, maar ek is ‘n wenner as ek nie die geringste twyfel in my vermoë om die toets te ondergaan, toelaat om my daarvan te weerhou om my daarvoor voor te berei nie.  Ek is altyd ‘n wenner as ek van my kant af my bes doen.

Met my hand in dié van my Heer, sien ek en wandel ek in die lig, en ek is en bly ‘n wenner in die arena van die lewe.  Niks en niemand kan my hoegenaamd laat twyfel aan die waarheid van hierdie stelling nie.  Niks en niemand kan my minder as ‘n wenner maak nie!


Gebed:  Ek is ‘n wenner!


~ Uit Daelikse Woord ~







Saturday, 25 February 2012





WAARDERING


Kyk daar, kyk na die lande;  hulle is ryp vir die oes.  – Joh. 4:35


‘n Toegewyde Ligvriend begin elke oggend met die woorde:  “Goeiemôre Hemelvader!  Reken my vandag asseblief  in by alles wat goed en mooi is!”

Om op so ‘n positiewe noot die dag te begin, is ‘n wonderlike manier om ons voor te berei vir die seëninge wat die dag mag bring.  Dit is ‘n houding wat ons meer oplettend maak teenoor alles wat gebeur.  Ons verwag die goeie, en sien tot ons verbasing raak dat dit orals om ons is.  Die voëltjies sing, mense glimlag en alles om ons getuig van ‘n mooie, blye dag.

So ‘n houding is ook so aansteeklik, en ons positiewe, entoesiastiese gesindheid beïnvloed almal met wie ons te doen kry, totdat hulle ook lag en net die mooie en goeie begin sien en waardeer.

Dit sal ook al hoe beter met ons begin gaan, want as ‘n mens die goeie verwag, maak jy jou gereed om dit te ontvang, en dit kom dan ook op jou weg.  Dis ‘n houding wat almal en alles waarmee ons te doen kry, aanraak en seën, en die lied in ons hart vind ‘n refrein in die hart van ons medemens.


Gebed:  Ek kyk, ek waardeer, en ek sê dankie dierbare Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 17 February 2012





GLIMLAG


Ek het hulle toegelag as hulle moedeloos was, en hulle kon die lig van my gesig nie verdonker nie.  – Job 29:24


‘n Glimlag is ‘n geskenk van liefde, of dit nou vir ‘n vreemdeling, ‘n vriend of ‘n geliefde is.  Dit dra boodskappe van liefde, van aanmoediging en vriendelikheid oor.  ‘n Glimlag is ‘n stil geskenk van begrip, deernis en goedgesindheid.

Ons glimlag is ‘n welkom geskenk wat ons gee wanneer ons miskien in ‘n lang tou moet staan en wag, bestuur of wanneer ons luister en met andere praat.  Al weet ons dit nie altyd nie, ons glimlag kan spanning breek, laste verlig en is boodskappers van Gods liefde in ons harte.

Ons glimlag is soos ‘n omhelsing wat andere toevou in liefde en tere sorg.  Daar gaan nie ‘n dag om sonder talle geleenthede om andere te seën met ons glimlag nie.  Vryelik deel ons dit uit aan vriend en vreemdeling, en die seëninge wat ons so ontketen vir hulle en vir ons, ken geen perke nie.

Ons glimlag is ‘n geskenk van liefde.


Gebed:  My glimlag is ‘n geskenk van liefde. Help my om dit vandag goed te gebruik Heer.


~ Daelikse Woord ~




Thursday, 16 February 2012





HELING


Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees.   Jer  30:17


My inwonende Christus, die Prins van liefde wat in my hart woon, is altyd daar om my te vul met nuwe lewenskrag en energie en ek het niks anders nodig, as ek Hom ken op al my weë nie!

Ek sluit my oë en konsentreer op hierdie hemelse teenwoordigheid binne-in my.  Ek sien hoe Sy lig my ganse wese deurstraal – hoe elke sel en orgaan helder verlig word, en alles wat nie van die lig is nie, uitgewis word. Na siel en liggaam word ek hernu.

Hierdie helingsproses is ook nie beperk tot die paar oomblikke wat ek daaraan aandag gee nie – dit is altyd daar. Wanneer ek my gedagtes stil maak en daarop konsentreer, kom ek in harmonie met die wonderwerkende krag daarvan.

Die lig van die Vader verhelder my denke en omskep my gedagtes in lig-gedagtes.

Die liefde van die Seun vul my hart en skep harmonie in die werkinge van my liggaam.

Die krag van die Heilige Gees vul my met nuwe lewenskrag en energie, en ek is ‘n stralende, gesonde kind van die lig!


Gebed:  Ek is ‘n stralende, gesonde kind van die lig!


~ Uit Daelikse Woord ~