Thursday, 15 November 2012





LIEFDE


Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.  1 Joh. 4:19


God het ons lief.  Daar is geen voorwaardes wat ons moet nakom om Sy liefde vir ons te verdien nie.  Ons is Sy kinders.  Sy liefde is altyd tot ons beskikking deur Christus wat in ons hart woon.  As dit nodig is dat ons vandag opnuut aan hierdie waarheid herinner moet word, sal ons net stil word, en ons wend tot die Heer van ons hart.  Hy sal ons welkom heet en tóévou in Sy suiwer liefde.

‘n Stroom van liefde sal ons hart binnevloei en tot oorlopens toe vul.  Die foute van die verlede sal vergewe en vergeet word, en met ‘n hart waar die liefde self woon, sal ons blymoedig kan voortgaan op ons pad van lig.

Waar daar liefde is, is vreugde en vrede en voorspoed, en vol entoesiasme maak ons ons gereed vir al die seëninge wat God op ons gaan uitstort uit Sy Vaderhart vol nimmer-eindigende liefde.


Gebed:  Ek is ‘n kind van God, oorvloediglik geseënd.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 14 November 2012







VOLKOME VRYHEID


Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees.  Gal. 5:1


Ons afhanklikheid van iemand anders vir geluk en vervulling, kan lei tot gevoelens van onwaardigheid en hulpeloosheid.  Enigiets van buite onsself, wat ons beskou as noodsaaklik vir ‘n gelukkige lewe, kan ons aan bande lê – ons geestelik gestremd maak – en die ware geluk van die lewe self by ons laat verbygaan.

Hierdie soort van afhanklikheid kan die gevolg wees van misplaaste geloof dat iets wat ons van buite bekom, ons sal help om van ons kommer en spanning ontslae te raak.  Hierdie soort geloof is van alle waarheid ontbloot, en enigeen wat hieraan gebonde is moet net besef dat daar slegs een Bron van geluk en vrede is, naamlik Christus Jesus.

Verlang ons na groter vryheid?  Dan moet ons nou van rigting verander en ons wend tot die Heer van ons hart, ons inwonende Christus, want slegs in Hom en deur Hom sal ons ware vryheid vind, en nie meer van mense en dinge van buite afhanklik wees vir ons eie geluk en vrede nie.


Gebed:  In Christus is ek heel en vry!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 13 November 2012






SPIEËLBEELD


Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem.  Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.  Die heerlikheid wat van ons uitstraal neem steeds toe. – 2 Kor. 3:18


Hoe sien jy jouself, kind van God, kind van die lig?

Wonder jy soms of jy werklik nodig is?  Jy is!  Twyfel jy dalk of jou lewe enige doel het en of jy ooit iets beteken vir iemand?  Laat omstandighede of wat ander mense van jou sê dit in twyfel trek?

Wanneer jy besef dat jy ‘n geestelike wese, ‘n kind van God is, kan jy onmóóntlik nié voel dat jy onbelangrik is nie!   Jy is ‘n unieke en só ‘n besondere  skepping van God!  Jy mag dit soms vergeet, maar dit is ‘n feit.  Dink aan jouself as ‘n kind liefdevol en teer geskape deur Gods liefdevolle Vaderhande  en verhef  jou gedagtes oor jouself.  Dink oor die wonderlike kragte en moontlikhede wat God oor jou uitgestort het en raak ontslae van jou self-vernedering.  Want God sou nooit enige van Sy kinders geskape het as minderwaardige kwaliteit nie.  Hy het elkeen van ons só baie lief en is só trots op ons Sy handewerk!

Jy het só baie om te gee, en met God se hulp kan jy sóvéél opbouende dinge tot hierdie lewe bydra!!


Gebed:  Ek is ‘n geestelike wese – ‘n kind van God en die lig!


~ Uit Daelikse Woord ~









EK IS GEREED

Sit eers jou werk buite aan die gang en bewerk jou lande;  daarna kan jy huis bou.  Spr. 24:27

Ek wil so graag altyd gereed wees vir enigiets wat ookal met my gebeur, maar hoe kan ek daarin slaag?

Hiervoor is daar net een antwoord – ek moet elke dag tyd maak om my Heer te nader in gebed – om vir ‘n tydjie alleen met Hom te wees in my diepste heiligdom.  Dis ‘n tyd hierdie wat my ophef – ‘n tyd waarin Sy lig my gedagtes verlig en ophef, Sy liefde my hart vul en Sy krag my vul met nuwe moed en ywer.  In Sy heilige teenwoordigheid verdwyn al my kommer en sorge.

En dan luister ek.  Ek luister na wat my Heer vir my wil sê.  Die wyse raad wat Hy my gee, is meer ‘n gevoel wat by my opkom as soveel woorde.  Ek weet skielik wat ek moet doen, en in Sy krag sien ek kans om dit te doen.

Die waarde van hierdie geseënde tyd wat ek so saam met Hom wat in my woon deurbring, kan nie in woorde beskryf word nie.  Ek weet net dat my geloof daarna soveel sterker is, my liefde en deernis soveel dieper, en ek sien kans vir enige uitdaging!


Gebed:  My stil tye maak my gereed vir elke uitdaging in my lewe.  Met my hand in U Vaderhand, het ek NIKS om te vrees nie!


~ Uit Daelikse Woord ~





Saturday, 10 November 2012






NUWE BEGIN


Die lamp van jou liggaam is die oog.  As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.  -  Matt. 6:22  OV


Het  gister my dalk minder gebied as waarvoor ek gehoop het?  Dit maak nie saak nie, want ek is gladnie gebonde aan die verlede nie.  Elke nuwe dag is ‘n skoon blad vir my om op te skryf.  Ek laat los dus die verlede en begin vandag opnuut.

Ek maak tyd om stil te word – om my diepste heiligdom binne te gaan en rus te vind in die liefde en teenwoordigheid van Hom wat daar woon.  In hierdie stil oomblikke saam met my Heer, word my gedagtes hernu, en ek is oop en ontvanklik vir seëninge van Bo.

Elke keer wanneer ek Hom opsoek in gebed hernu Hy my.  Hy deel die dag met my en ek geniet alles wat ek doen want ons doen dit tesame.  Die seën van Sy liefde waarvan my hart so vol is, deel ek vrylik met my medemens.

Aan die einde van die dag sê ek uit die diepte van my hart dankie vir Sy hemelse samesyn, en gaan rus ek met die wete dat môre nog ‘n heerlike dag saam met Hom gaan wees.


Gebed:  Ek hou my oog gerig op God, en alles in my en om my is goed.


~ Uit Daelikse Woord ~





Friday, 9 November 2012







TROOS


Wees sterk en laat jou hart sterk wees!  Ja, wag op die Here!   
Ps. 27:14  (OV)


Toe Jesus na Sy opstanding aan Sy dissipels verskyn het, het Hy gesê,  “Onthou:   Ek is by julle al die dae.”

Die krag van die opgestane Christus is op hierdie oomblik ook binne-in my.  Hierdie wonderwerkende krag van Christus in my is lig, lewe, blydskap en vrede.  Hy is altyd gereed om enige ongemak te heel, om verdriet te troos en eensaamheid te laat verdwyn.

Die liefde van Christus vul my hart.  Dit vloei in my, deur my en om my, en omskep enige duisternis in lig wat my weg verhelder.  Sonder enige vrees gaan ek stadig maar seker vooruit op my pad van lig.

Raak ek onseker en bang, soek en vind ek my troos by Hom wat in my woon.  Hy gee my krag en vertroos my.  Ek wag op die Here van my hart, en vrede vul my gemoed.

Op enige plek, te enige tyd wanneer ek hulp mag nodig hê, doen ek ‘n beroep op die Christus van my hart.  Hy omskep my twyfel in sekerheid en alle duisternis verdwyn in die niet voor Sy helder lig.


Gebed:  Ek wag op U Here!  U alleen vertroos my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 6 November 2012







Liewe Vader...


Waar begin mens...

Hoe sê 'n mens ooit dankie...

Dankie dat U elke tree

van elke dag by ons is...

Soms wonder ons hoekom

dinge moet gebeur...

So baie vrae, seer harte...

Here U weet wat U plan

vir ons lewe is...

Help ons om nie ons plan

vir ons lewe uit te leef nie...

Maar wel dit wat U vir

ons beplan het...

Ons weet dat as ons

na U verlang...

Kan ons net opkyk en

sien U is altyd daar...

U weet van elke ding

in ons lewe...

Soms weet ons nie

eers daarvan nie...

U is liefde...

Dankie vir al die

liefde en omgee...

Beskerming en vertroosting...

As ons te moeg is...

Te hartseer is

om weer op te staan...

Gee U vir ons rede

om weer voluit te leef...

Want U het net die

beste vir ons beplan...

U Seun het aan die kruis gesterf...

Dit sal vir altyd meer

as genoeg wees...

Ek bid dat U elkeen

wat hierdie lees styf

sal vashou in U hande...

Want hulle verdien

net die beste!


Amen


~ Sandra R Greyling ~