Sunday 3 May 2015

Onveranderlike Rots van die eeue





Onveranderlike Rots van die eeue


Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.  -  Heb. 13:8


Dit is net natuurlik dat die beeld wat ons van Jesus Christus sou hê, dié sou wees van iemand met ‘n Palestynse agtergrond uit die Romeinse goue tydperk.  Dit was in daardie tyd God se behae om Hom aan die wêreld te openbaar en van toe af reeds dink mense aan Christus in die drag en gewoontes van daardie tydperk.  Omdat ons Hom in ons gedagtes binne daardie tyd voorstel, laat ons die ewigheid en onveranderlikheid van Christus maklik uit die oog.

Hy kan slegs doeltreffend in jou lewe intree as jy Hom in die konteks van die moderne tyd en in die tydperk van jou eie bestaan beleef.  Omdat Hy “ewig” is leef Hy vandag!  Hy is kragtig in jou lewe aanwesig en Hy wag angstig om vir jou leiding te gee.

Jy mag dink dat jy in ‘n unieke tydperk leef – en in ‘n sekere sin is dit waar.  Maar die basiese probleme van die wêreld van vandag is nog presies dieselfde as toe Jesus op aarde was.

Inhaligheid, wellus, selfsug, kleinlikheid, haat en bitterheid is nog steeds magtige invloede in ons menslike bestaan.

Net soos eeue gelede kan Hy vandag nog hierdie siektes en afwykings hanteer.  Op hierdie standvastige Rots kan ons ons lewe bou!


Heilige Meester, dit gee my gemoedsrus om te weet dat U tydloos en onveranderlik is in hierdie snelveranderde wêreld.  Dankie dat ek my lewe hierop kan waag.


Solly Ozrovech  :  In die holte van God se hand


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
°˚˚° Aan God alleen die eer! ˚°°˚

No comments: