Wednesday 7 May 2014






WONDERDAG


Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.  -  Ps 118:24

Om te dink!  Vanoggend toe die voëltjies die dagbreek luidkeels aankondig – toe die son die duisternis oorkom en in al sy glorie opgekom het, verwelkom deur die voëlgesang – waar was ek?  Miskien nog vas aan die slaap ....  Ons is so gewoond aan die dae wat die Here so pragtig maak, dat ons dit nou sommer as vanselfsprekend aanvaar en al is ons ook wakker,  nie besef watter rykdomme Hy vir ons dag na dag gee nie.  Die een dag is mooier as die ander en geen twee dae se skoonheid-skouspel is presies dieselfde nie.  Die wolke se kleur gedurende ‘n sonsopkoms, wissel gedurig van kleur van oomblik na oomblik.  As ons wakker word sê ons dalk vir die Here dankie vir nog ‘n dag, maar ons weet nie regtig waarvoor ons dankie sê nie, want ons het nie gaan kyk hoe mooi dit is nie ....

En tog – elke dag bied ons die geleentheid om een tree verder te gee op die hoofweg van ons siel.  Dit is ons eie keuse!  Dit is ons wat bepaal, weer met ons gedagtes, of dit ons een trappie hoër gaan neem, ‘n tree nader aan die koninkryk van God – óf ‘n tree al hoe verder weg.  Die feit bly staan – die mense bepaal self sy eie dag en sy eie weg!

Heer, ek wil só graag die mens wees wat ek net kan wees as U oorneem in my hart, as U my denke suiwer, sodat my oë net dit wat skoon en rein is raaksien – tot die skoonheid en reinheid in my hart ‘n weerga vind, en liefde oorneem.  Dan sal ons daaroor juig en bly wees!


Gebed:  Dankie, dankie, Heer, vir hierdie wonderdag wat U gemaak het!  U wil so graag hê dat ons ook in ekstase raak oor die skoonheid waarmee U ons, U kinders bederf, en dan hoor  U niks – net die stilte en die  Hoe seer moet U Vaderhart net nie daaroor wees nie!  Selfs die voëls wat vir U dankliedere uit volle bors sing, is vir ons, U kinders wat U só baie liefhet, ‘n voorbeeld!  Here, help ons om ons waardes in die lewe te verander en om deur U oë om ons te kyk.


~ Uit Daelikse Woord ~



No comments: