Friday, 9 May 2014





EK  IS


Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.  -  Hand. 17:28


Ek is ‘n kind van God, wat lewe, beweeg en bestaan in Hom en deur Hom in my.  As ek Hom ken op al my weë, kan niks my aan bande lê of minder maak as wat ek is nie.

Ek is die Lig wat helder skyn in hierdie denke en aan my wysheid en insig in alles wat my en my lewe aangaan, kan almal wat my ken sien hoe Liggerig my denke is.

Ek is die Liefde wat warm klop in hierdie hart, en in my dade en my woord teenoor andere wat my lewe met my deel, kan almal sien hoe Liefdegerig my gevoelens is.

Ek is die Krag wat sterk staan in hierdie wese, en aan my vasberadenheid en doelgerigtheid in my daaglikse handel en wandel, kan almal sien hoe Krag-gerig my lewensbenadering is.

Ek kán ek ek sál elke dag van my lewe Lig, Liefde en Krag wees, want dit is hoe ek hulde bring aan my Skepper – dit is hoe ek aan andere om my wys wat my Hemelse Vader vir my beteken, dit is hoe ek mý deel doen om hiérdie aarde ‘n beter plek te maak om te leef.


Gebed:  Ek is Lig, ek is Liefde en ek is Krag deur Christus wat in my woon!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 8 May 2014






DIE EERSTE TREE


Die Gees wat God ons gegee, maak ons immers nie lafhartig niem maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.  -  2 Tim. 1:7


En ons kan hier byvoeg, vul ons met blydskap, moed, durf en selfvertroue – alles wat ‘n Kind van die Lig nodig het om ‘n vol en ryk lewe te kan geniet, want die Gees wat  God ons gegee het, is ons eie inwonende Christus-self!

Ons moet net die eerste tree gee om Hom te laat opstaan in ons en oorneem, en hoe meer ons hierdie Wonder-teenwoordigheid nader, hoe meer ons Hom loof en prys en dankie sê, hoe sterker word die lewenskrag wat in en deur ons werk en straal, hoe suiwerder die Lig waarin ons wandel, hoe dieper die Liefde, want dit is Hy wat in ons opstaan en stadig maar seker oorneem in ons lewens!

Sy lig sal al hoe helderder begin skyn in ons en deur ons, en ons omskep in die stralende Ligwesens wat ons is!  So vrolik soos die lied van ‘n voëltjie sal ons woorde wees, so sag en teer soos ‘n moeder teenoor haar kind sal ons aanraking wees, en so sterk soos ‘n rots sal ons staan!


Gebed:  In die wonder van U in my, staan ek sterk!



~ Uit Daelikse Woord ~



Wednesday, 7 May 2014






WONDERDAG


Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.  -  Ps 118:24

Om te dink!  Vanoggend toe die voëltjies die dagbreek luidkeels aankondig – toe die son die duisternis oorkom en in al sy glorie opgekom het, verwelkom deur die voëlgesang – waar was ek?  Miskien nog vas aan die slaap ....  Ons is so gewoond aan die dae wat die Here so pragtig maak, dat ons dit nou sommer as vanselfsprekend aanvaar en al is ons ook wakker,  nie besef watter rykdomme Hy vir ons dag na dag gee nie.  Die een dag is mooier as die ander en geen twee dae se skoonheid-skouspel is presies dieselfde nie.  Die wolke se kleur gedurende ‘n sonsopkoms, wissel gedurig van kleur van oomblik na oomblik.  As ons wakker word sê ons dalk vir die Here dankie vir nog ‘n dag, maar ons weet nie regtig waarvoor ons dankie sê nie, want ons het nie gaan kyk hoe mooi dit is nie ....

En tog – elke dag bied ons die geleentheid om een tree verder te gee op die hoofweg van ons siel.  Dit is ons eie keuse!  Dit is ons wat bepaal, weer met ons gedagtes, of dit ons een trappie hoër gaan neem, ‘n tree nader aan die koninkryk van God – óf ‘n tree al hoe verder weg.  Die feit bly staan – die mense bepaal self sy eie dag en sy eie weg!

Heer, ek wil só graag die mens wees wat ek net kan wees as U oorneem in my hart, as U my denke suiwer, sodat my oë net dit wat skoon en rein is raaksien – tot die skoonheid en reinheid in my hart ‘n weerga vind, en liefde oorneem.  Dan sal ons daaroor juig en bly wees!


Gebed:  Dankie, dankie, Heer, vir hierdie wonderdag wat U gemaak het!  U wil so graag hê dat ons ook in ekstase raak oor die skoonheid waarmee U ons, U kinders bederf, en dan hoor  U niks – net die stilte en die  Hoe seer moet U Vaderhart net nie daaroor wees nie!  Selfs die voëls wat vir U dankliedere uit volle bors sing, is vir ons, U kinders wat U só baie liefhet, ‘n voorbeeld!  Here, help ons om ons waardes in die lewe te verander en om deur U oë om ons te kyk.


~ Uit Daelikse Woord ~



Monday, 5 May 2014






VANDAG


Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.  -  2 Kor. 6:2


Vandag is ‘n spesiale geskenk van God aan my.  Dit is ‘n dag wat ek nog nooit beleef het nie, en wat ek nooit weer kan beleef nie.  Hierdie kosbare dag gaan ek met wysheid benader – ek gaan dit geniet en al die wondere van die wêreld om my raaksien en waardeer.  Die belangrikste is egter my tydjie saam met my Heer, en as ek dit nie afskeep nie, sal ek vind dat ek al my verpligtinge met gemak kan nakom en nog tyd gaan oorhê ook.

Op die verlede stort en al my liefde en vergifnis uit, en maak my so oop vir die seëninge van vandag.  Met my volle aandag gevestig op hierdie mooie dag, strewe ek die doelwitte na wat ek my voor oë gestel het.

Hoe waardeer ek nie elke oomblik van hierdie dag nie!  Dit wat ek moet leer, leer ek en dit wat ek moet onthou, onthou ek sonder enige inspanning.

Die belangrikste van alles is egter dat ek uitgevind het dat elke dag wat ek benader vanuit my diepste heiligdom, bydra tot ‘n gelukkige vol lewe.


Gebed:  Vandag is al my aandag op God gevestig.


~ Uit Daelikse Woord ~







BID VIR JOU GELIEFDES


Ek het jou nog altyd liefgehad.  -  Jer. 31:3


Daar is altyd iets wat ek kan doen om my geliefdes te help en te seën en dit is om vir hulle te bid.   Wanneer ek vir my geliefdes bid, sien ek hulle as kinders van God.

Ek sien hulle omvou in Sy liefde.  God het hulle oneindig lief, en in Sy oë is hulle wonderlik en die moeite werd om lief te hê bo alles. 

In my gebede sien ek hulle sterk en vas staan in die krag van God.  Sy lewenskrag wat in en deur hulle werk en straal, heel en hernu hulle na liggaam en gees.

Ek sien Sy lig helder skyn in hulle en rondom hulle op hul lewenspad.  In hierdie helder stralende lig maak Hy hul vry van alle twyfel  en hul weet wat om te doen en hoe om op te tree te alle tye.

Dankie, hemelse Vader, vir U liefde wat my geliefdes omvou, beskerm.  Dankie vir  Ú krag wat hulle vul met moed en krag en wat hul gesond maak wanneer hul siek is. Dankie dat U u genesende Vaderhand oor hulle hou en weer versterk.

Dankie vir U lig so helder in hulle en rondom hulle wat hul tree vir tree lei op U hemelse pad van lig.


Gebed:  Seën my geliefdes Heer, met U Lig, Liefde en Krag.


~ Uit Daelikse Woord ~



Saturday, 19 April 2014





MY  LIEFSTE  KIND


Ek het jou by jou naam geroep;  jy is Myne!  -  Jes 43:1


My liefste kind, as jy maar weet hóé waardeer ek net nie jou toewyding en samewerking nie!  Jy is Mýne, Ek het jou op jou náám geroep, en jy het gehoor en geluister, en nóóit sal jy en al jou Ligvriende besef wát julle in hierdie oorgangstyd vir My, en ja, ook vir ons wêreld beteken nie!

Ek is *ín* jou, en jy is *ín* My.  Al sláág jy nie altyd daarin om My te vind nie.  Ek sal jou nóóit ooit faal nie.  Al is jou geloof in Mý nóg só klein, My geloof in jóú wankel nóóit nie, want ... Ek kén jou, en Ek het jóú, so baie lief!!

Besef jy hóé kosbaar jy wérklik is??   Daar is níémand wat hier waar jy nou woon en werk dít kan gee wat jý het om te gee nie!  Jy is uniek en daar is nie nog iemand soos jy nie!!  Ek is besig om déúr jou te werk, ál herken jy nie áltyd My werke nie.  Ek is besig om jou te lei, ál verstaan jy nie altyd My weë nie.

Soms raak jy só besig dat jy nie My fluistering hoor nie, en tóg, as jy My toelaat, spreek Ek deur jóú stem  -  en werk Ek deur jóú hande.  My liefste kind, Ek is hier – áltyd net hier, digby jou!  Onthou, jy is Mýne, nóú en vir ewig!


Gebed:  Roep my, Dierbaarste Heer, ek wíl en sál altyd antwoord!


~ Uit Daelikse Woord ~






GOEIE VRYDAG


Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.  -  Fil. 4:13 (OV)


Jesus het voor die grootste vernedering ooit, daar in Getsemane vir God gevra of die beker nie maar by Hom kon verbygaan nie.  Die mens in Hom het gesidder!   Maar toe kom ‘n engel om Hom by te staan en uiteindelik kon Hy sê:  “Laat nogtans nie My wil nie maar U wil geskied.”

En deur die marteling, deur die vernedering en beledigings heen, het Hy sy man gestaan, stil en sonder om Homself hoegenaamd te verdedig.

Gekruisig is Hy – dit was die doodstraf vir die misdadigers van daardie tyd – en Hy kon nog sê:  “Vader, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie! “

En daar gebeur die grootste wonderwerk van alle tye *tot nou toe!*   Hy was menslik gesproke dood – sy bloed is gestort op hierdie aarde!   Hy is in ‘n graf weggebêre, en daar staan Hy op!   Aan sy krag was daar geen einde nie – krag om stil te bly en te verduur, krag om te vergewe, krag om op te staan in dieselfde liggaam wat so dood was!   *Alles wat Ek doen, kan julle ook doen!*


Gebed:  Slegs in U krag Heer, kan ek – kom woon in my hart!


~ Uit Daelikse Woord ~