Wednesday 1 July 2015

'n Vrou begenadig





‘n Vrou begenadig


Lees Johannes 8:1-11


Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra:  ‘Mevrou, waar is hulle?  Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?’  Niemand nie, Here,’ sê sy.  Toe sê Jesus:  ‘Ek doen dit ook nie.  Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.’”  -  Joh. 8:10-11


Op ‘n dag het die skrifgeleerdes en Fariseërs ‘n vrou op heterdaad betrap is dat sy owerspel pleeg na Jesus toe gebring.  Hulle wou van Hom weet of hulle haar moes stenig, soos die wet van Moses beveel.
Eintlik wou hulle Jesus vasvra.  Maar al wat  Jesus gedoen het, was om vooroor te buk en met sy vinger in die grond te skryf.  Toe hulle aanhou om Hom te vra het Hy geantwoord:  “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi”  (1 Joh. 8:7).

Hierop het die aanklaers liewer een vir een weggeloop.  Hulle het goed geweet niemand se gewete is skoon nie.

Jesus wou daarna by die vrou weet of niemand dan die oordeel oor haar voltrek het nie.  Toe sy ontkennend antwoord, het Hy vir haar sy genade aangebied:  “Ek doen dit ook nie.”  het Hy gesê.  “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie”  (Joh. 8:11).

Jesus bied vandag  nog sy genade gratis aan vir elkeen wat dit wil aanneem.  Hy veroordeel ons nooit vir al die verkeerde dinge wat ons doen nie.  Hy vra wel dat ons nie meer sal sondig nie.

Is jy bereid om jou troetelsondes prys te gee uit dankbaarheid vir Jesus se genade teenoor jou?


Here Jesus, vergewe my dat daar nog soveel verkeerde dinge in my lewe is.  Help my om alle sonde te laat staan uit dankbaarheid vir u genade teenoor my.


Nina Smit  :  Uit  Die Groot Dagboek vir die vrou na God se hart

  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

No comments: