Saturday 7 October 2017

'N KOSBARE PÊREL







’n Kosbare pêrel
deur Helena Hugo


Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy ’n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.
– MATTEUS 13:45


Die hemel val nie sommer in jou skoot nie. Jy sal dit net kry as jy die goed waarmee jy besig is, neersit en agterlaat en daarna gaan soek. Op pad sal jy Jesus ontmoet en dan sal jy moet kies. Is jy bereid om soos die pêrelhandelaar alles op die spel te plaas?


Dis presies wat Jesus van jou verwag. Gee jou ou lewe weg – al daardie wêreldse begeerlikhede, die pret en plesier waaraan jy so gewoond is en waarsonder jy nie kan leef nie. Hou hulle teen die lig wat van Hom af uitstraal en bekyk hulle deeglik. Mag deurnagdobbel nou nog deel uitmaak van jou naweekroetine? Het jy jou broer vergewe? Waarvoor spaar jy jou geld? Kan dit nie beter gebruik word om een behoeftige student te borg nie?


As die begeerte jou oorweldig om alles te verkoop en jou by ’n sendingorganisasie aan te meld, doen dit. God het ’n taak vir elkeen van ons, Hy verwag nie van ons om alles te los en op ’n paal te gaan sit en wag vir die einde nie. Watter nut het ons dan vir Hom?


God wil nie hê ons moet ons van die lewe onttrek nie. Hy gee ons lewensvreugde in Jesus en maak ons kosbaar in sy diens. Maar maak jou los van jou vorige lewe en jou klatergoudbesittings. Moenie jou so aan jou goed en gewoontes verknog dat jy ’n hand vol misvormde pêreltjies bly vasklou, terwyl jy die volmaakte een kan kry nie.


Hemelvader, wys vir my wat ek moet doen met myself en my besittings om van nut te wees in u koninkryk.



Pêrels vir Jesus se Kroon / Facebook
 






No comments: