Thursday, 17 November 2011





INNERLIKE VREDE


Wees maar net stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!
Ps. 62:6 OV


As die lewenstorme woedend om my slaan en ek smag na ‘n plek van vrede, van stilte en rus – miskien êrens in ‘n woud, op ‘n berg of by die see, maar dit is prakties onmoontlik, dan onthou ek – ek hoef maar net diep in my hart te gaan soek, en ek sal die plek vind waar vrede heers.

Hoe groot die wonder om so ‘n plek binne-in my te kan hê. ‘n Plek nader as enige vakansie-oord – ‘n heerlike plek van stilte en rus, wat boonop nie ‘n sent kos om binne te gaan nie.  Al wat ek moet doen, is om stil te word – om my Heer wat daar woon in gebed aan te roep.  Hy sal my hoor – Hy sal antwoord, en sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, sal my hart en gemoed binnevloei.

Soos die vrede wat heers in die dieptes van die see, ongeag die storms op die oppervlak, so is die vrede wat ek daar vind, ongeag die storms wat om my woed en dreig om my te verswelg.

Dankie, Heer, vir U vrede wat nou in my hart heers – ‘n vrede wat ek met my kan saamneem, ‘n vrede wat my bybly dwarsdeur hierdie mooi dag saam met U.


Gebed:  Dankie, Heer, vir U vrede nou in my hart.


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday, 16 November 2011




VERGEWE


Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. – in Engels: Forgive and you will be forgiven.  – Luk. 6:37


Heer, met U liefde in my hart is ek nou gereed vir vergifnis, of dit nou vir my is of vir iemand anders.  Ek is maar ge gewillig om nou van al my griewe ontslae te raak.

Almal van ons maak foute, want niemand is volmaak nie.  Help my, Heer, om dit te onthou, wanneer ek dit moeilik vind om ‘n diep seer of teleurstelling te vergewe.

Gee my die insig en begrip om te besef dat ek uit elke aanval, reg hanteer in U liefde, geestelik al hoe sterker word in U krag.  As ek dan later terugkyk en sien hoeveel baat ek geestelik gevind het deur die teleurstelling, die onmin en die seer heen, word my daad van vergifnis soveel makliker – dit word uiteindelik omskep in ‘n dankgebed!  Dankie, Heer!

Wat is vir God belangrik?  Ons geestelike groei natuurlik.  En vir die sielegroei wat elke ervaring ons bied, sê ons dankie, en dan is daar niks om te vergewe nie!


Gebed:  Ek vergewe en ek word vergewe.  Dankie, Vader!


~ Uit Daelikse Woord ~




DIE HEILIGE GEES


Vir hulle het Hy veilig gelei, en hulle was nie bang nie.  Ps. 78:53


Gods Heilige Gees in ons lei ons, versterk ons en onderskraag ons, ongeag hoe moeilik of deurmekaar ons lewe ookal lyk.

Elke dag gee ons die geleentheid om in hierdie wêreld te lewe en te groei, te leer en andere te leer, lief te hê en bemin te word.  Daar kom egter tye wanneer dit vir ons totaal onmoontlik is om selfs die geringste aanduiding te kry hoe dit wat ons of ons geliefdes mag deurgaan ooit ons eie of hul lewens kan verryk.

Maar ons gee nie op nie, ons gee ook nie in nie!  Veral nie wanneer ons weet en bevestig:  DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES IS IN MY, nie. Dis woorde hierdie waarmee ons ons doelbewus daaraan herinner dat ons Heer altyd met ons is, waar ons ookal mag wees, en wat ons ookal mag deurgaan, en dat Sy krag ook ons krag is.

Hy lei ons op weë wat veilig is, Hy beskerm ons en sien na ons om, elke oomblik van die dag en ook in die nag, en ons sê dankie vir Sy liefde so groot en wonderbaar!


Gebed:  Die krag van die Heilige Gees is in my!


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday, 15 November 2011




VOEL JY ALLEEN,  MOEDVERLORE, HARTSEER OF ONGELUKKIG?


Moet jou nie ontstel nie.  Bly maar net glo!  Mark. 5:36


Heer, vandag gaan my hart uit na elkeen wat alleen, verlore, hartseer en ongelukkig voel.  Laat U liefde op die wieke van my gebede vir hulle, hul hart en gemoed binnevloei, en elke leë plek so vol maak, dat hulle spontaan ontwaak tot die vrede en rus wat daar net by U te vinde is:

In U Heer, glo ek, en ontstel my oor niks nie, want ek weet waar U in beheer is, werk alles ten goede mee.  U vrede is my stok en my staf, en U wysheid lei my elke tree.  Op U pad van lig, veilig en beskut in U liefde, wandel ek voort van dag tot mooie dag.

Heer, ek weet U wandel elke tree van die weg saam met my, en ek hou my oë en my ore oop vir U leiding en lig – ek luister, ek glo en ontstel my oor niks, want ek weet – wanneer ek moeg is, is U krag daar vir my, ek moet dit net my eie maak. 

Wanneer ek begin twyfel aan my vermoëns, omskep U my gedagtes in lig-gedagtes en ek is tot alles in staat in U lig wat my denke verlig.  Soos ‘n liefdevolle ouer is U altyd daar vir my, en jubelend sê ek, Dankie, Vader!


Gebed:  In U Heer, glo ek, en ontstel my oor niks!


~ Uit Daelikse Woord ~



 

Monday, 14 November 2011




IN STILTE

Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil.  Ps. 62:2 OV

Soms mag ek eensaam voel, verlate en bang, maar ek weet ek is nooit alleen nie, want diep in my wese wag my Heer op my.  My siel word stil tot God, en sy liefde, lig en krag vloei my hart en gemoed binne.  Van Hom is my heil, en aan my moed en durf is daar geen perke nie.

In hierdie stil plek, diep in my binneste, wag ek en luister ek na die sagte stem van Hom wat daar woon:

“Geliefde, welkom hier by My!  Moenie bang wees en vol twyfel nie, jy weet mos Ek het my intrek in jou hart geneem – jy weet mos Ek is altyd hier, slegs een gebed, een gedagte ver van jou af.  In My lig lei Ek jou, in my liefde beskerm Ek jou, en in My krag is daar geen perke aan wat jy kan vermag nie.

‘Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee,’ het Ek gesê, baie jare gelede, en dis vandag nog net so waar.  Jy is nou hier by My – ontspan en rus in My liefde.  Leun op My, en Ek sal jou beskerm en lei op al jou weë.”

Gebed:  My siel is stil tot God.

~ Uit Daelikse Woord ~





Friday, 11 November 2011




VRIENDSKAP


Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie.  Nee,  Ek noem julle vriende, omdat  Ek alles wat  Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 
Joh. 15:15


Vandag vier ek die wonder van vriendskappe.  Deur self ‘n vriend te wees, leef ek my geestelike eienskappe uit.  Die liefde, geduld en bedagsaamheid van my inwonende Christus-self, stort ek op my vriende uit.

In my poging om ‘n ander te help, laat ek die Christus in my toe om die Christus in daardie persoon te groet.  My woorde van vertroosting, my bereidwilligheid om met meegevoel te luister, is die manier waarop my diepste wese kommunikeer met die diepste wese van iemand anders.  Vriendskappe is ‘n band van liefde, ‘n band van eenheid tussen twee mense.

Vandag lê ek my daarop toe om die vriendskappe in my lewe te geniet en te verryk.  Soos ‘n vriend, en in die gees van vriendskap, bring ek hulde aan die Christus in my hart en die Christus in die harte van my vriende.


Gebed:  Vandag leef ek van Christus tot Christus.


~ Uit Daelikse Woord ~



Thursday, 10 November 2011




KIND VAN GOD


Hierdie Gees getuig saam met ons Gees dat ons kinders van God is.  En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. – Rom. 8: 16,17


Geen gebeure van die verlede het vandag enige krag meer oor my nie. Geen mens se afkeuring het enige krag om my seer te maak nie. Ek is die kind van God wat Hy wil hê, wat Hy nodig het en wat altyd omvou word deur Sy liefdevolle sorg.  God het my lief, God keur my goed.

As kind van God is ek ek ‘n erfgenaam van al die rykdomme van Sy koninkryk.  Ek is my erfenis waardig.

Ek durf om te glo dat ek ‘n kind van God is.  Ek durf om te voel en op te tree soos die kind van God wat ek is.  Ek gaan elke dag tegemoet vry van enige geloof in die beperkinge van die verlede, vry van geloof in negatiewe invloede van watter soort ookal.

Ek leef my geestelike gawe van liefde, lewe, wysheid, blydskap en vrede ten volle uit.  Ek sien alles in my lewe in ‘n nuwe lig. Ek bewandel die weë van gesondheid, geluk en voorspoed, want ek weet met sekerheid dat ek ‘n kind van God is.


Gebed:  Ek is ‘n kind van God.


~ Uit Daelikse Woord ~