Monday 14 November 2011




IN STILTE

Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil.  Ps. 62:2 OV

Soms mag ek eensaam voel, verlate en bang, maar ek weet ek is nooit alleen nie, want diep in my wese wag my Heer op my.  My siel word stil tot God, en sy liefde, lig en krag vloei my hart en gemoed binne.  Van Hom is my heil, en aan my moed en durf is daar geen perke nie.

In hierdie stil plek, diep in my binneste, wag ek en luister ek na die sagte stem van Hom wat daar woon:

“Geliefde, welkom hier by My!  Moenie bang wees en vol twyfel nie, jy weet mos Ek het my intrek in jou hart geneem – jy weet mos Ek is altyd hier, slegs een gebed, een gedagte ver van jou af.  In My lig lei Ek jou, in my liefde beskerm Ek jou, en in My krag is daar geen perke aan wat jy kan vermag nie.

‘Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee,’ het Ek gesê, baie jare gelede, en dis vandag nog net so waar.  Jy is nou hier by My – ontspan en rus in My liefde.  Leun op My, en Ek sal jou beskerm en lei op al jou weë.”

Gebed:  My siel is stil tot God.

~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: