Saturday 5 November 2011



VERGEWE


Toe sê Jesus: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  - Luk. 23:34


Kyk net na die teks hier bo en dink aan die omstandighede waaronder Jesus kon vergewe. Sal ons kan?

Eintlik is dit ‘n baie hard werk om iemand nie te vergewe vir ‘n onreg ons aangedoen nie, want met ons wrewel en onvergenoegdheid bou ons ‘n muur tussen ons en die liefde van ons Heer, totdat dit haas onmoontlik word om te vergewe.  Sy liefde in ons harte is soos ‘n suiwer rivier van helende water, en elke gedagte van blaam is soos ‘n swaar klip wat ons aandra om die muur tussen ons en hierdie hemelse liefde al hoe hoër te bou.  Hoe uitputtend is so ‘n werk nie!

Maar daar is ‘n ander opsie.  Ons kan daardie suiwerende liefdestroom deur ons hart laat vloei.  As ons dit in alle opregtheid doen, sal die wrewel en seer wegvloei, liefde en vrede sal ons hart binnevloei, en soos Jesus, kan ons ook vergewe.

Dankie, Heer van my hart, vir U liefde wat my hart weer die suiwer, skoon kanaal gemaak het wat kan vergewe en vergeet, hoe groot die onreg ookal was.


Gebed:  Vader, dankie vir U liefde waarmee ek kan vergewe.


~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: