Thursday 12 March 2015

Jou God is Koning





Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: "Jou God is Koning!" - Jesaja 52:7


“Jou God is Koning!”  Onthou hierdie woorde baie goed – spits jou gedagtes daarop toe en bêre dit in jou hart, wat jy ookal mag doen, waar jy ookal mag gaan of watter diens jy ookal mag lewer.  Ons God is Koning, en waar Hy Koning is, daar heers Hy in al Sy glorie en mag.  God is lewe, en Sy lewe is die Lig vir die mens.  God is JOU lewe, en jou lewe is nooit somber of vevelig met Sy aanwesigheid nie.  Die Lig van God, jou Vader, skyn helder in jou en om jou.  As jy hierdie lig deur jou gedagtes, woorde en dade ook op andere laat skyn, sal jyself ‘n baken van lig word in jou wêreld.  ‘n Helder stralende tempel van lig sal jy wees, tot seën van almal wat jou pad mag kruis, tot seën van jou hele Ligvriendekring en tot seën van jou land en jou wêreld.

Toe Gods kinders die pad byster geraak het, en vergeet het dat Hy die Lig van die wêreld is, het Hy Sy geliefde Seun gestuur om aan die wêreld die goeie tyding van heerlike, lewegewende krag en gesondheid, van liefde en lig, van oorvloedige, stralende, ewige lewe, vir ons Sy kinders te bring.  God het Sy geliefde Seun gestuur as Verlosser van die wêreld, as groot Geneesheer wat mense sou gesond maak, as Leermeester wat hulle sou lei op die weg van vrede, vryheid en heelheid.

Jesus Christus wat Sy lewe gegee het om ‘n verloregaande wêreld te red, woon nou binne-in jou en my, en deur Hom is al die lig, liefde en krag wat jy ooit mag nodig kry daar vir jou en jou medemens deur jou.  Jesus Christus was en is en sal altyd die Boodskapper van ‘n tyding van Groot Blydskap wees vir die hele mensdom, en elkeen wat by die fontein van die lewende water drink wat Hy aanbied, SAL die ewige lewe beërwe!


Gebed:  Baie dankie, Here Jesus, dat  U deur  u kruisdood my verlossing bewerkstellig het.  In ruil DAARVOOR  gee ek nou vir  U  my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~


✉  deur:

Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God alleen die eer! / Soli Deo Gloria!

No comments: