Thursday 30 January 2014





GEE   JOU  GAWE


Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien.  -  1 Petr. 4:10 (OV)


Het  jy al aan jouself gedink as nódig en belángrik, met ‘n geskenk wat net  jý aan hierdie wêreld kan gee?   Jy behoort dit te doen, want jy ís uniek en só spesiaal en jy het ‘n geskenk wat wónderlik en goed is!  Iemand wag nóú om daardie geskenk te ontvang wat net  jý het om te gee.

Wat is jou spesiale geskenk?  Dit kan een van die volgende dinge wees:  Waardering – ‘n warm handdruk of drukkie;  ‘n klop op die skouer;  vriendskap – ‘n helpende hand of  ‘n aanbod om iemand te help;  kommunikasie – ‘n telefoonoproep of ‘n briefie of selfs net ‘n vriendelike glimlaggie;  vredemaking – ‘n oop gemoed en ‘n begrypende hart;  ondersteuning – materieël of geestelik om iemand wat in nood is te help;  aanmoediging – ‘n luisterende oor of ‘n woord van aanmoediging;  gebed – positiewe geloof en bevestigings.

Wát ookal jou geskenk is – die wêreld het dit só bitter nodig en jy word hónderdvoudig geseën wanneer jy dit gee.  Wát ookal jou geskenk – die wêreld is onvolledig daarsonder!


Gebed:  Uit U oorvloed, Heer, gee ek vandag!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: