Saturday 2 September 2017

LAAT DIE GEES JOU VERANDER







LAAT  DIE  GEES  JOU  VERANDER
deur Nina Smit
Lees:  2 Kor. 3:12-18


Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem.  Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.  Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.  -  2 Kor. 3:18


God openbaar Homself deur sy Woord, deur die skepping, deur sy Seun en deur sy kinders.  Elkeen van ons is na God se beeld geskep om sy verteenwoordigers op aarde te wees.  Deur die sonde is hierdie beeld egter vertroebel, daarom stuur God vir Jesus na die aarde om sy beeld in die mens te herstel.


Deur die Heilige Gees wat in ons woon, is ons in staat om elke dag meer en meer soos Jesus te word, om só te lewe dat ander Hóm sal sien wanneer hulle na ons kyk.  Die Heilige Gees verander ons dus só dat die beeld van Christus al meer gestalte in ons lewens kry, dat ons die heerlikheid van Christus weerspieël.


Sien mense die heerlikheid van Jesus wanneer hulle na jou kyk?


Heilige Gees, verander my sodat ek elke dag meer en meer soos Christus sal word.  Gee dat sy heerlikheid uit my sal straal sodat ander dit sal raaksien en God sal prys.  Amen


Deur die Heilige Gees wat in my woon,
word ek elke dag meer soos Jesus.


Koningsdogters- en Seuns vir Jesus Bediening / Facebook



 


No comments: