Friday 27 November 2015

Die Almagtige God merk en reinig sy disspels









Skrifgedeelte: Openbaring 7
Fokusgedeelte: Openbaring 7:9-10


Die Almagtige God merk en reinig sy disspels


Ons moet kerk wees in ’n tyd waar dit moeilik gemaak word om kerk te wees. Vir die wêreld is die kerk se boodskap nie ’n gewilde een nie, daar is spot en verleiding. Daar mag erger vervolging wees. Een ding weet ons: Die Seun regeer met alle mag aan die regterhand van die Vader. Hy is die Lam wat waardig is om die seëls oop te maak. Hier maak Hy die sesde seël oop: ons kom in God se versekering dat wat sal gebeur, vas is in sy heerskappy, by die eindoordeel met die sesde seël. Die magtiges en rykes, ook die slawe en alle mense wat nie glo nie, kruip weg in grotte en onder kranse in die berge. Berge val op ons, heuwels bedek ons!

Die Here wat alle mag het, wys deur Johannes vir ons waar die kerk op daardie dag is: die 144 000 uit elke stam, die volle Ou-Testamentiese kerk, is gemerk en in veiligheid afgesonder. Ook ’n ontelbare menigte uit elke nasie, stam, volk en taal staan voor die Lam skoongewas. Hulle is die dissipels uit die groot opdrag, die gedooptes, rein gewas in die bloed van die Lam. Hulle weet wat dit beteken dat die Here Jesus gesê het: Ek is by julle al die dae ... Hulle roep uit: Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!

Die Lam sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog. As ons nie geweet en geglo het dat dit die uiteinde is nie, het ons nie vir die groot opdrag kans gesien nie. Nou is ons voorbereid, nie in die duister oor die waarom van alles nie. God, Almagtig, Skepper en Verlosser, is op die troon. Hy het sy Lam gestuur tot ons redding. Hy stuur ook alles na sý uiteinde toe tot ons redding.

Hierdie wete behels nou ook die bereidwilligheid om lewende offers te wees – getuies vir die wêreld, dienaars. Die merk en die skoongewas wees is nie maar net ’n stempel nie: Dit raak hart en siel, verander jou lewe. Jou kerkwees sal net dissipelskap wees wanneer jy nie jou wêreldjie in isolasie sien nie, maar God se toekoms voor jou en vir jou sien oopgaan, omdat Hy sy belofte hou en tot in ewigheid jou Here is.


Sing: Psalm 103:7, 8 (2001)
Ds. J (Jan) Malan (Burgersdorp)

*Gepos deur: Poppie Oosthuizen*





No comments: