Saturday 2 January 2016

“Jy is te jonk om deur God gebruik te word” vs God *GEBRUIK* jongmense!









“Jy is te jonk om deur God gebruik te word”  vs  God  *GEBRUIK* jongmense!


Ons het so gewoond geraak dat dit gewoonlik die dominees, of pastore en baie ander ouer mense is wat al die werk vir die Here doen.  Jongmense (dalk dink jy ook so?)  moet eers bietjie ouer word voordat die Here hulle kan gebruik ...


In ‘n onlangse nuusblad van die Kinderevangeliste-Opleidingsinstituut word die WARE verhaal vertel van ‘n seuntjie in Graad 2 wat aan nege straatkinders die boodskap van hoop en verlossing vertel.  Dit doen hy terwyl sy twee sussies die evangelie met ‘n munisipale werker deel.  As meer jongmense  maar tog hulle hope energie op dié manier vir JESUS wil uitleef pleks van dit te mors op ‘RAVE PARTIES’ of voor die televisie, rekenaar of op hulle selfoon!  Dan sal ons wêreld mos sommer *BAIE* anders lyk!


Paulus sê vir Timoteus dat niemand op hom mag neersien omdat hy jonk is nie.  Inteendeel, hy word uitgedaag om ‘n voorbeeld te wees van hoe ‘n Christen behoort te leef.  Dis dieselfde Heilige Gees wat in *JÓÚ* woon wat in die dominee of pastoor woon.  As jy net gehoorsaam aan die Here sal wees, *KAN* en *WIL* die Here groot dinge *DEUR* jou doen.


Dink net, die Here wil *JOU* voorbeeld en *GETUIENIS* gebruik sodat daar ‘n verándering kan kom in die lewe van jou gesin en vriendekring.  Jou gebede kan lei tot ‘n herlewing in jou skool;  die uitreik wat jy organiseer, kan vir baie mense in nood Jesus se LIEFDE wys en *jou getuienis* kan lei tot iemand se redding!!!


1 Tim 4:12
Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges, ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.


Here, dankie dat ek nie hoef terug te staan omdat ek nog jonk is nie.  Ek is beskikbaar om deur U gebruik te word.




Johan Smith  :  Kuiertyd met JESUS






No comments: