Thursday 7 January 2016

Jy's nooit alleen nie!








Jy’s nooit alleen nie!


Lees Psalm 18:29-32, 47-49


Die Here leef!   Ek loof Hom wat my rots is.
Ek prys my God wat my gered het (Psalm 18:47)


“Ek wil nie meer lewe nie.”   Neil kan sien dis  *regtig*  só.   Bernard lyk gedaan.  “Ek voel so moedeloos,” sê hy.  “Ek beny julle ouens wat die nuwe jaar so vrolik tegemoet gaan.  Gisternag toe almal klappers skiet en toeters blaas oor die nuwe jaar, het ek net vir myself gesê: ‘So what?’  Wat is die kans tog dat die nuwe jaar vir my iets goeds sal inhou?

“Kyk hoe vrolik lyk  *jy* vanoggend.  Reg vir hierdie jaar en wát dit ook al bring.  Jy was seker ook gisteraand die siel van die een of ander partytjie.  Nét die mán!  Besig om vuurpyle en klappers af te skiet – en ek sit hiér, dóódbang vir die onbekend nuwe jaar ...”

Neil glimlag net.  “Jy’s verkeerd, weet jy.  Ek het nie gisteraand vuurpyle geskiet nie.  Toe dit Nuwejaar word, was ons klomp in die kerk.  En weet jy, ek dink *dít* is omtrent al rede hoekom ek vir die nuwe jaar kans sien.  Jy weet mos dat my ouers op skei staan.  My ma is ook glad nie gesond nie.  Ek wonder maar self wat die nuwe jaar alles inhou.  Maar ek weet minstens ek gaan dit nie alleen in nie.  My Hére lewe!  soos die psalmdigter sê.  En dit verander die saak!  Ek wéét mos Hy sal ook in hierdie nuwe jaar vir mý sorg ...”

“Bedoel jy ... ék kan ook maar op Hom vertrou?  Dat ek ook die jaar nie alleen hoef aan te pak nie?”  Bernard kyk vir Neil angstig aan.  Sy stem is skaars hoorbaar.

“Dis reg,” antwoord Neil.  “Sê dit net vir God.  Vra Hom en Hy sál vanjaar, en elkeen daarná, by jou wees ...”


Wat van jóú?
Hoe voel jy oor die nuwe jaar?  Wat dink jy van die moontlikheid om dit nie alleen hoef in te gaan nie?





Hannes Burger  :  MANS GENOEG om ‘n CHRISTEN te wees





Jongman Vuurwarm vir JESUS Bediening / Facebook






No comments: