Wednesday 27 January 2016

Luister na jou gewete









Luister na jou gewete


Lees Romeine 2:12-16


Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word.  Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle ... deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word (Rom 2:13, 15).


“God wil nie net ore hê wat hoor nie, Hy wil mense hê wat *ge*hoor*saam* is.  Dit is die doen van sy wet wat tel,” skryf prof A B du Toit in *Room van Romeine*.


Ons almal ken die tien gebooie baie goed, tog oortree ons dié wet van God baie kere op een dag omdat ons almal sondaars is.  Ons verdien God se straf, maar Hy kom ons tegemoet op ‘n besondere manier ...


Net soos die heidene van wie Paulus hier praat, het ek en jy ook ‘n wet wat in ons harte geskrywe staan (v 15), naamlik ons gewete.  Ons moet mooi luister na hierdie wet en die verkeerde laat staan wanneer ons gewete vir ons sê dat dit teen God se wet indruis.


Is jy bereid om dit te doen?


Hemelse Vader, dankie vir die stem van my gewete in my hart wat vir my sê wanneer ek verkeerd doen.  Help my om daarna te luister.


*** My gewete is God se wekker wat begin lui wanneer ek voor versoekings te staan kom. ***



Nina Smit  :  Dagboek vir die vrou.



Koningsdogters vir Jesus Bediening / Facebook



Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com


No comments: