Saturday 2 January 2016

'n God wat sorg








‘n God wat sorg


Lees Psalm 16


U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap.  Uit u hand kom net wat mooi is.  -  Ps 16:11


Ons is in die begin van hierdie splinternuwe jaar.  Maar wanneer ons die koerante oopmaak of die TV aanskakel, lyk die toekoms nie altyd so rooskleurig nie.  Veral dié vrou wat nog klein kinders (of kleinkinders) het, wonder dikwels hoe die wêreld sal lyk wanneer húlle eendag groot is.

As ‘n Christen kán jy egter die nuwe jaar vol vertroue tegemoetloop.  Jy hét mos ‘n God wat sorg, ‘n God wat die Bron is van alles wat jy het.  Jou geliefdes, jou huis, die brood in jou broodblik en die klere in jou kas – dit álles kom van God af.  En dié versorgende God belowe dat Hy die pad van dié nuwe jaar met jou saamloop.  Meer nog, dat Hy vooruit sal loop en jou sal dra deur die swaarkrytye.

Met só ‘n God by jou hoef jy nie bang te wees vir wat vir jou voorlê nie.  Want al gebeur wát ook, God is áltyd daar.  Hy sal jou leer hoe om te lewe.  By Hom is daar blydskap in oorvloed.  Daarom kan jy ook bly wees en juig oor die nuwe jaar wat voor jou lê.


Here, ek loof U vir u trou en bystand, veral in die jaar wat voorlê.  Leer my vanjaar hoe om as ‘n ware kind van God te lewe.  Amen


God sal in dié nuwe jaar elke dag by my wees en vir my sorg!



Nina Smit  :  Dagboek vir die vrou


  Koningsdogters vir Jesus / Facebook
Aan God drie-enig, alleen die eer!



(Die uitsendings van al my boodskappe, hang af van die stabiliteit van my internet konneksie.  Wanneer daar dus onderbrekings daarin is, sal daar ongelukkig ook geen boodskappe uitgestuur kan word nie.)


Boodskappe beskikbaar per epos – kontak my by:
poppieoosthuizen @ gmail.com






No comments: