Monday 1 February 2016

Toe sy ouers vir hom gebid het








TOE SY OUERS VIR HOM GEBID HET

deur Pastoor Piet Smit


Die jongman, kom ons noem hom Jaco, van wie ek vertel het wat van die huis weggeloop het om in die S.A. Weermag te veg tydens die Tweede Wêreld Oorlog, het een van sy ervarings met my gedeel.
Hulle moes voorrade met die vragmotors aanry na hulle basiskamp. Die terugtog ontaard toe spontaan in ‘n resies tussen hom en ‘n medesoldaat. Beide vragmotors ry teen maksimum spoed en elkeen trag om die ander een uit te oorlê. Hulle jaag later langs mekaar. ‘n Ent voor hulle was ‘n spoorlyn wat hulle moes oorsteek. In die jaagtog gewaar hulle ‘n trein wat aankom op die spoor en dit was duidelik dat hulle almal gelyktydig die oorgang gaan bereik – vragmotors en die trein. Beide manne het besef dat die een wat eerste oor die spoor is, sal wen, want net een kan oor by daardie vernouing by die spoor. Die een wat moes wag vir die trein om eers verby te gaan sal noodwendig tweede eindig.
So trap elkeen die petrolpedaal van sy vragmotor so wat hy kan en hou terselfdertyd die trein dop wat ook nader snel. Met ‘n halwe sekonde is Jaco voor sy opponent en oor die oorgang. Hy mis die trein net-net, maar die ander soldaat wat nie wou verloor nie druk die neus van sy vragmotor op hoogste spoed voor die aankomende trein in. Die botsing is so geweldig dat dit die vragmotor met volle krag van die spoor afgevee het. Dood op slag! Die resies het baie tragies geëindig.
Na die oorlog, met Jaco weer by die huis, vra sy ma hom op ‘n dag: “Seun, daar was ‘n spesifieke dag dat ek en jou pa doodbenoud was oor jou. Die Heilige Gees het ons gelei om onmiddellik vir jou in te tree in gebed Ons het ervaar dat jy in gevaar verkeer en het vir jou begin bid. Ons het gebid totdat ons gevoel het die nood is verby.”
Toe hulle die dag en die datum begin sinkroniseer vind hulle uit dit was presies daardie dag en tyd dat hy en die ander soldaat resies gejaag het en dit die ander soldaat se gekos het. (Sien Mat. 15:28)
Die gebede wat ouers vir hulle kinders bid, is geweldig kragtig. Hierdie is ‘n moed-gee verhaal om jou as ouer aan te moedig om vir jou kinders te bid wat nog nie gered is nie.


GEBED VIR JOU ONGEREDDE KIND


O Here, groot is U trou. Dink aan my kinders wat U nog nie dien nie. Werk in hulle harte deur U Gees dat hulle Jesus sal inlaat in hulle lewens. Amen.

No comments: