Tuesday 25 August 2015

Op Presies die Regte Tyd






Op presies die regte tyd


(Lank maar baie pragtig!)


“Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”  - 2 Kron. 16:9
“Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my en toe ek in vertwyfeling besef het:  ek kan op geen mens staat maak nie.”  -  Ps. 116:10, 11


Corrie ten Boom vertel in haar boek  The Hiding Place (World Wide Publishers, 1971) dat sy een aand in trane was omdat sy bang was dat haar pa sou doodgaan en sy nie sonder hom sou kon lewe nie.  “Sê my, Corrie,” wou haar pa weet, “as ek en jy Amsterdam toe gaan, wanneer gee ek vir jou jou treinkaartjie?”  “Net voor ons op die trein klim,” antwoord Corrie.  ‘Nouja, net so weet ons Vader in die hemel baie goed wanneer ons dinge nodig het.  Moet nooit probeer om dinge vooruit te loop nie.  As die tyd kom dat ek moet doodgaan, sal jy in jou hart kyk en die krag kry wat jy nodig het.  Die Here sal dit self vir jou gee, op presies die regte tyd.”

Vir sy kinders gee God ook die krag om enigiets te kan verwerk.  Jy dink miskien op die oomblik dat jy dit nooit sal oorleef as jy jou man/vrou of kind of ouers moet verloor nie.  Dat jy dit nie sal kan hanteer as ‘n geweldige finansiële krisis jou tref of ‘n ernstige siekte oor jou pad kom nie.  Maar dit is nie so nie.  Met God se hulp sal jy wel alles kan verwerk.  God sal vir jou die krag daarvoor gee.  Nie voor die tyd nie – maar presies op die regte oomblik wanneer jy dit nodig het.

“Want die Here kyk gedurig die hele wêreld deur om te sien wie op Hom vertrou met hulle hele hart, sodat Hy hulle met sy krag kan help,”  lui die Lewende Bybel se vertaling van ons teksvers.  Ons Vader is as’t ware besig om gedurig die wêreld deur te kyk, sodat Hy kan sien wanneer sy kinders Hom nodig het.  Dan, presies op die regte tyd, gryp Hy in om ons met sy krag te help.  En hoe groot is daardie krag nie!  Deur hierdie krag wat in ons werk, is God magtig om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, skryf Paulus in Efesiërs 3:20.  Ons hoef dus nooit bang te wees dat daar dinge oor ons lewenspad sal kom wat ons nie met ons Vader se hulp kan hanteer nie.  Die geheim is net om altyd in Hom te bly glo!


“Hemelse Vader, ek loof  U dat u oë op die oomblik op my is om te kyk wanneer ek U nodig mag kry.  Baie dankie vir die versekering dat  U altyd presies op die regte tyd vir my u krag sal kom aanbied, sodat ek elke krisis wat oor my pad kom, met u hulp sal kan verwerk.  Help my asseblief om in U te bly glo, selfs in dié tye wanneer dit vir my voel asof dit klaar met my is.”


(‘n Gedagte om te onthou:  God is altyd daar wanneer ek Hom nodig het, en Hy sal my op presies die regte tyd help.)


Nina Smit  :  Gedra deur Sy liefde




  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!



No comments: