Thursday 27 August 2015

Tel jou seëninge





Tel  jou seëninge


“Here, U is my lewe, U sorg vir my.  Wat ek ontvang, kom alles van U af.  ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.”  -  Ps. 16:5, 6


          Ek was eenkeer in ‘n vergadering waar ‘n vrolike Engelse dame twee voordragte gedoen het.  Haar oë het geblink, sy kon nie ophou glimlag nie, die lewensblyheid het behoorlik uit haar gestraal.  Later het ek uitgevind dat sy haar man op ‘n baie jong ouderdom verloor het, en dat dinge eintlik glad nie so goed met haar gaan nie.
          Voordat sy met haar voordrag begin het, het sy laggend vertel dat iemand haar in ‘n besige winkelsentrum voorgekeer en gevra het:  “Sê my, hoekom is jy altyd so vrolik, gaan dit dan nooit sleg met jou nie?”  Sy het geantwoord: “Natuurlik gaan dit soms sleg met my, maar ek het geleer hoe om daardie tye te hanteer.”  “Hoe?” wou die vriendin weet.  “Ek is van die oggend tot die aand besig om my seëninge te tel,” was die vrolike dame se antwoord.  “Wanneer ‘n mens dit doen, het jy nie tyd oor om jou te bekommer nie!”  Ek het na haar stralende gesig gekyk en skaam gekry toe ek besef het hoeveel meer seëninge ék gehad het om te tel as sy.
          Christene behoort elke dag dankbaar te lewe en al die mooi dinge wat ons uit die hand van ons Vader ontvang, raak te sien en te waardeer.  Om dankbaar te wees beteken om te erken dat ons niks het wat ons nié ontvang het nie, om weereens vir ons die feit te onderstreep dat alles genade is, en om bewus te wees van die band van liefde tussen ons en die Gewer van al die seëninge.  As ons doelbewus só lewe, sal daar ook in ons lewens nie tyd en plek vir dinge soos bekommernis en depressie oorbly nie.


“Here, leer my asseblief om my seëninge te tel wanneer die donker dae kom.  Dankie dat daar ten spyte van al die moeilike dinge nog soveel mooi dinge is waarvoor ek bly kan wees.  Dankie vir gesondheid, vir skoonheid, vir musiek, vir die lag van kinders, vir my Bybel wat ek kan oopslaan en Uself met my hoor praat.  Dankie dat ek mag bid wanneer dit swaar gaan – dankie vir my man en my kinders, vir my gerieflike huis en my mooi tuin.  Vir die son op my gesig en die wind deur my hare.  Vir kos en klere en sekuriteite.  En as al dié dinge wegval, Here, dankie dat ek nog vir U het.  Dat U my vashou en liefhet en ondersteun, en my nooit sal verlaat nie.  Dankie dat U die Gewer is van ál die seëninge in my lewe.”


‘n Gedagte om te onthou:  Ek behoort dankbaar te wees vir elke blyk van God se genade wat ek in my lewe ervaar.



Nina Smit  :  Gedra deur Sy liefde



  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!




poppieoosthuizen  @  gmail.com

No comments: