Sunday 13 September 2015

'n Wenspan







N  WENSPAN


Staan op, word verlig, want jou lig kom.  -  Jes. 60:1 (OV)


Ons is só gewoond aan die lawaai en vertoon om ons, dat die stil, en tog so álles-oorwinnende krag díép in ons wese, óngesiens by ons verbygaan.  Ons wéét dit is daar, maar ons láát dit daar, want daar is mos nie tyd om ons te onttrek en ons Héér, wat só angstig op ons wag, aan te raak nie ...


Daar is nié tyd om te luister na dit wat Hý vir ons wil sê in die sagte briesie wat die grassade roer nie, nié tyd om na die melodie van die heelal te luister nie.  Ons volg liefs die lawááiende mense op nêrens-héén-paadjies, en verloor die pad van die léwe wat stil en sonder basuingeskal ín en déúr ons stroom.  Maar, sóós met die verlore seun, is dit nóóít te laat om Hom weer op te soek nie – nóóít te laat om Hom wéér te vind nie.  Ons wéét waar, en ons weet hóé, en in die díépste stilte in ons hart, bid ons:


“Dierbaarste Heer van my hart!  Red my van híérdie verkeerde dwaal-weë waarop ek is.  Neem ál hoe méér gestalte aan in hierdie liggaam van my.  Ómskep my in ‘n lígwese, sodat ek óók kan bydra tot die simfonie van die lewe.  Ú in mý en ek in Ú, Heer, word al hoe méér ‘n wenspan – mag ek dit vir géén oomblik vergeet nie!”


Gebed:  Ú in mý en ek in Ú, Heer, *ís* ‘n wenspan!




~ Uit Daelikse Woord Aangepas ~


  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!


mamma333  @  gmail.com

No comments: